new-top-banner-english

Die boek van Daniel(A)

E-Boek: Die boek van Daniel

Vervulde profesie bevestig die Bybel as ‘n geïnspireerde Boek, en versterk die gelowige se vertroue dat God magtig en instaat is om al sy beloftes waar te maak.  Daar bly op hierdie huidige oomblik baie min van Daniël se profesieë oor wat nog vervul moet word, en dit binnekort, is seker.

 

Ek is die Here onse God baie dankbaar dat Hy my die genade gegee het om ook hierdie boek te kon skryf.  Dit was altyd my ideaal om die uitleg van beide die “Boek van Daniël” en “Die Boek van Openbaring” in die hande van ons lesers te plaas, want die een is onvolledig sonder die ander.  Ek is net jammer dat dit my so lank geneem het voordat hierdie ideaal verwesenlik kon word, maar dit is geen geringe taak om so ‘n boek te skryf te midde van al jou ander verpligtinge nie.

Dit is ook met groot dankbaarheid dat ek almal wil erken wat dit vir my help moontlik maak het om hierdie boek te skryf.  Hulle is te veel om op te noem, maar ek wil veral naas God, my Gemeente bedank vir hulle geduld met my.  Hulle moes baie van die persoonlike kontak wat ons met mekaar kon gehad het, prysgee om aan my die tyd te gee om te skryf en na te vors. 

 

Maar ek wil ‘n besondere woord van dank aan my dogter, Anne Joubert, rig vir die mooi illustrasies wat sy met soveel liefde en inspirasie vir hierdie boek gedoen het.  Dit dra baie daartoe by om die leser ‘n beter begrip van die Boodskap van die boek te gee.  Ook wil ek my opregte dank teenoor Willem en Lenie de Klerk uitspreek vir die liefde en toewyding waarmee hulle die proeflesing vir my gedoen het.  En laaste, maar nie die minste nie, wil ek my dank uitspreek teenoor al die skrywers (almal, of die meeste, seker al heengegaan), wie se werke ek kon raadpleeg.  U sal ‘n tabel van sommige van hulle aan die einde van hierdie boek, onder die opskrif “BIBLIOGRAFIE”, vind.

Hierdie boek is vir die gewone Bybelleser bedoel wat ‘n begeerte het om “die profetiese woord wat baie vas is” te verstaan, sodat dit hulle blydskap in die lees daarvan kan vergroot wanneer hulle elke dag die vervulling daarvan voor hulle oë kan aanskou.  Die boek gaan nie in baie fyn besonderhede in nie, dit sou die boek te dik gemaak het vir die gewone besige leser om te behartig.  Vir diegene wat meer besonderhede wil hê, het ons die lesings wat ek oor die Boek van Daniël aangebied het, met hierdie boek as basis, op kassetbande vasgelê.  Hierdie bande is van my op navraag verkrygbaar.

Mag Hy wat hierdie wonderbaarlike woorde aan Daniël gegee het, ook aan u wat hierdie boek sal lees, genade skenk om te verstaan wat Hy vir ons, wat die finale vervulling beleef, wil sê.  

November 1979

Die Skrywer


Inleiding

 

Ons bevind onsself in hierdie tyd op die laaste grense van die profesieë van die Bybel vir hierdie dispensasie.  Behalwe die werklike Klimaks van die Eeue self , bly daar betreklik min oor van alles wat deur die Groot Profete van die Bybel, van Jesus Self, en sy apostels voorspel is.  Al die groot paaie van die profesie wat ons deur die eeue heen oor berge en deur dale gelei het, staan op die punt om op die randjie van die ewigheid bymekaar te kom.  Die oomblik van die laaste dinge het vir ons aangebreek.

Dit is dus vir ons wat nou leef ‘n saak van uiterste belang dat ons hierdie dinge sal ondersoek om te weet presies waar ons staan. 

Die Psalmis het gesê:

“U woord is ’n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad” - (Psalm 119:105).

Die Apostel Petrus het geskryf in:

2 Petrus 1:19;

En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julIe tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julIe harte. 

Die profesieë van die Ou Testament, en veral die van Daniël het die presiese tyd aangedui waarin Christus se eerste koms sou plaasvind.  Op soortgelyke wyse waarsku beide die OT en NT ons oor sy wederkoms.  Deur die Profeet Daniël het God selfs die presiese jaar aangedui waarin Christus gedoop sou word en met sy bediening onder die salwing van die Heilige Gees sou begin.  Die presiese tyd wanneer Hy gekruisig sou word is ook aangedui.  As die mense van daardie tyd ag geslaan het op Gods Woord, sou hulle die Messías verwag het, en voorbereid gewees het om Hom te ontvang.

Johannes die Doper het met groot erns aangekondig:

“- - - - Bekeer julIe, want die koninkryk van die hemele het naby gekom - (Matt. 3:2).

Hy het geweet dat die uur geslaan het waarop Christus moes verskyn.  Net so het ons Here Jesus self, nadat Hy deur Johannes in die Jordaan gedoop is, onmiddellik begin preek en gesê:

“- - - - Die tyd is vervul - -  - - - - bekeer julle en glo die evangelie - (Mark. 1:15).

Indaardie tyd het ‘n klein minderheid stip uitgekyk vir die vervulling van die profesieë en was gereed vir hulle vervulling, maar die oorgrote meerderheid het nie gewaak nie; hulle het Hom nie verwag nie, en het ook nie die Christus ontvang nie.  Dit sal in hierdie laaste dae net so wees wanneer Christus die tweede keer kom.  Die Skrif verklaar dat hierdie groot gebeurtenis sal kom soos ‘n strik en soos ‘n dief in die nag.  Dit sal vir die nasies van die aarde as ‘n geweldige verrassing kom.  Maar daar sal diegene wees wat nie verras sal word nie; hulle sal gereed en op die uitkyk wees. 

Jesus het gesê: “Daar sal tekens wees” - (Lukas 21:25).  Hy het self gesê dat wanneer die vyeboom en al die bome begin bot, dan moet ons weet dat die somer naby is, en net so ook sy wederkoms wanneer ons al hierdie dinge sien gebeur.  Ons staan op die drumpel van die allergrootste en grootse gebeure wat die wêreld ten goede gaan verander vir al die eeue wat kom. 

 

In die onthulling van hierdie groot veranderinge werp die “Boek van Daniël” ‘n groot vloed van lig.  “Die Boek van Daniël” moet dan ook saam met die “Boek van Openbaring” bestudeer word.  Ek hal aan uit die Algemene Inleiding tot my boek, “Die Boek van Openbaring”, die twee boeke moet saam gelees word.  Die Boek van Openbaring is die natuurlike opvolger van Daniël; net soos die NT die OT opvolg.  Die een vul die ander aan”.  Aangaande die afgelope ongeveer 2,520jaar kan ons in breë trekke sê dat Daniël die eerste een derde hiervan in besonderhede behandel, en die orige twee derdes net in hooftrekke.  Openbaring gee hierdie laaste twee derdes weer in meer besonderheid.

Die Afrikaanse Bybel met Verklarende Aantekeninge sê die volgende:

Doel en betekenis van die boek; Daniël leef in ‘n ernstige krisistyd van die ryk van God op aarde.   Die teokrasie in die vorm van ‘n onafhanklike Israel onder ‘n Dawidiese koning het met Sedekía tot ‘n einde gekom, en die groot vraag is: Sal die magte van die wêreld segevier of die ryk van God? Die boek Daniël toon aan dat die wêreldmagte bestem is om onder te gaan en dat die uiteindelike triomf behoort aan die Messías en sy ryk, hoewel die volk van God tye van swaar verdrukking sal deurmaak.  

Die boek Daniël belig hoofsaaklik die periode van die eerste verwoesting van Jerusalem, 587 v.C. tot die eerste koms van Christus, hoewel sekere profesieë nie volkome by die eerste koms vervul is nie, terwyl die Openbaring van Johannes vir die tyd van die tweede verwoesting van Jerusalem (70 n.C.) tot die tweede koms van Christus, in simboliese taal, die groot Iyne trek”. 

 

Daniël is in die besonder die Profeet van “Die Tye van die Nasies” - (Luk. 21:24). Sy visie strek oor die hele verloop van die Wêreld Regering (so ‘n bekende term weer in ons dae, en dit nie sonder die allergrootste betekenis nie) van die “Nasies” (of “Gentiles” in Engels) tot sy einde in rampspoedige chaos, en die oprigting van die Messiaanse Koninkryk op aarde. 

 

Hierdie “Tye van die Nasies” is belangrik.  Sonder om op hierdie stadium in te veel besonderhede te gaan, kan ons net sê dat hierdie “Tye van die Nasies” ‘n tydperk is van “Sewe Tye” wat ‘n tydperk is van 2,520jaar, en wat min of meer saamval met die tydperk van straf vir Israel wat die Heer haar van gewaarsku het wat sy sou ondergaan as sy aan Hom ongehoorsaam sou wees. 

Lees dit in: Levítikus 26:18,21,24,28.

Die Afrikaanse Bybel sê “sewevoudig”, die Engelse Bybel sê “seven times”.  Wat merkwaardig en baie belangrik is, is dat hierdie “Sewe Tye” van Israel se straf altyd min of meer saamval met die “Tye van die Nasies”: of te wel, die tye wanneer die nasies oppermagtig was, en Israel in verdrukking is.

 

InProfetiese Taal stel ‘n dag ‘n jaar voor.

InEségiël 4:6 lees ons:

“ - - - - - vir elke jaar lê Ek jou een dag op”,

In Númeri 14:34 lees ons:

“- - - - - - - - vir elke dag een jaar - - - - -”.

 

In Daniël 7:8, praat hy van die “horinkie” wat “oë soos mensoë” het “en ‘n mond wat groot dinge spreek”. 

Daniël sê hy sou oppermagtig wees “gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van ‘n tyd” - (Daniël 7:25), m.a.w. vir 3½ tye.

In Openbaring 11:2,11; Open. 13:5, wat profeties van hierdie selfde periode praat, word hierdie tydperk met drie afsonderlike name genoem, wat almal op presies dieselfde tydperk dui: hulle is “twee-en-veertig maande”, “drie en ‘n halwe dag” en “duisend-tweehonderd-en-sestig dae” - (Open. 11:3).  Die “drie en ’n halwe tye” is dus 1,260jaar en die sewe tye is dus 2,520jaar. 

 

Ons kan dus hierdie tye gebruik as ‘n meetstok om sekere belangrike gebeurtenisse in die Boek van Daniël en in die hele Bybel vas te stel. 

In Lukas 21:24 het die Here Jesus gesê:

“ - - - - en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is”.

 

In die jaar 1917, presies 2,520jaar nadat Nebukadnésar in die jaar 603 v.C. vir die eerste keer Jerusalem beleër het, het die Geallieerde magte van Wêreldoorlog no.1, onder Generaal Allenby, Jerusalem weer van die “nasies” (Gentiles of heathen in Engels) bevry. 

 

Ons sal nog in die loop van hierdie Studie sien dat dit met Wêreldoorlog no.1 is dat vrede van die aarde weggeneem is ter voorbereiding vir die Laaste Slag, of Armagéddon, wat die ingryping van God uit die hemel in die vorm van die Wederkoms van Christus sal noodsaak.  Dit is ook in hierdie Periode 1914-1918 tot met Armagéddon, waarin die Tye van die Nasies wat met Nebukadnésar begin het, hulle finale aftakeling beleef.  Die Politieke, Ekonomiese en Godsdienstige Stelsels waarmee hierdie “Babiloniese” Stelsels die ware Israel en die wêreld in slawerny gehou het, sou in hierdie tussen, of interim periode, heeltemal afgetakel word.  Die mag wat God sou gebruik om hierdie doel te bereik, en dan self met daardie mag aan die einde afreken, is die Kommunisme onder die leiding van die Ros, Meseg en Tubal, die Gog van die Land Magog; en dit is niemand anders nie as Rusland en haar bondgenote, soos ons hulle voor ons oë op hierdie huidige oomblik (14 Februarie 1978) sien.

Daar is natuurlik ook groot meningsverskil oor die vraag of dit nou werklik Daniël is wat die boek geskryf het.  Ons sal nie daarop ingaan nie.  Net die feit dat so baie van Daniël se profesieë en sy verklaring van Nebukadnésar se droom sover al letterlik uitgekom het, is genoegsame bewys van die egtheid van die aanspraak dat Daniël dit wel geskryf het.

Lees Deuteronómium 18:21-22.

Verder word Daniël ook deur die Bybel self bevestig.  Deur die Profeet Eségiël bevestig God self dat daar so ‘n persoon soos Daniël geleef het:

“Al was hierdie drie manne, Noag, Daniël en Job, daarin, dan sou hulle deur hul geregtigheid net hulle eie siel red, spreek die Here HERE - (Eség. 14:14 en 20).

 

In Eségiël 28:3, praat die profeet met die verwaande Prins van Tirus soos volg:

“Kyk, jy is wyser as Daniël, alles wat verborge is, is vir jou nie te duister nie!

Daniël was ‘n tydgenoot van Eségiël, en het in Babilon gewoon terwyl Eségiël oor die Huis van Israel geprofeteer het.  Eségiël was bekend met die wysheid en werk van Daniël, en het dus uit persoonlike ondervinding van hom gespreek.  Maar ons grootste bewys nog van die egtheid van Daniël is die getuienis van ons Here Jesus self.

In Matthéüs 24:15 sê Hy:

WANNEER julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom - laat hy was lees, oplet -”.

Jesus self het dus bevestig dat dit Daniël was wat daardie woorde geprofeteer het, en nie ‘n denkbeeldige persoon nie.

 

“Die boek is geskrywe in Hebreeus en Aramees (‘n Semitiese taal wat na verwant is aan Hebreeus en langsamerhand hierdie taal as spreektaal verdring het).  Die Hebreeuse gedeeltes is: 1:1 - 2:4a en 8:1 12:13; die Aramese 2:4b - 7:28.  Hoewel daar in die loop van die eeue baie gissings gewaag is om die tweetaligheid van die boek te verklaar, kan niks met enige sekerheid vasgestel word nie.  Dit bly vir ons ‘n raaisel.  Vergelyk egter die opmerkings in die paragraaf oor die inhoud en indeling van die boek”.  (Aldus Die Bybel met Verklarende Aantekeninge). 

Wanneer ons die Boek van Daniël lees, moet ons baie duidelik in gedagte hou dat Christus die middelpunt van al God se raadsbesluite is.  Hy is die kern waarom alles gaan.  Sy glorie en heerlikheid en oorwinning is die mikpunt van elke handeling van God met hierdie aarde.  Naas Hom vind ons God se uitverkore volk Israel, al Twaalf die Stamme. 

Die Bybel praat ook van ander nasies, maar altyd net in so verre dit met Israel in verband staan.  Dus ook hier in Daniël sal ons die opkoms en ook weer die verdwyning van heidense nasies sien, en ook van stelsels in vyandskap teen God.  Maar weer net in soverre dit Israel raak.  God maak ‘n einde aan daardie nasies en stelsels, maar nie aan Israel nie.  Maar, en dit moet ten sterkste beklemtoon word, ook nie eers die hele Israel nie, maar net ‘n oorblyfsel uit Israel. Daar gaan ‘n groot uitsifting hier aan die einde van hierdie dispensasie kom.  Die ongehoorsames en die onheiliges in Israel sal net soos die heidene omkom.

 

Die Boek van Daniël begin dan in Babilon, en dit eindig met ‘n aanduiding van die Nuwe Jerusalem.  Dit begin in tyd, dit eindig op die grense van die ewigheid. Daniël, en Johannes in Die Boek van Openbaring verenig in hulle waarskuwings dat hierdie huidige tyd, die tyd van die einde is, en dat daar diegene is wat op hierdie oomblik lewe wat sekerlik deel sal hê in die Opraping om die Komende Christus tegemoet te gaan in die lug. 

 


Hoofstuk 1

(Dan. 1:1-21)

Die Persoonlike Geskiedenis van Daniël

 

Die Persoonlike Geskiedenis van Daniël, Hy en sy Vriende Kwalifiseer vir Dlens aan die Koninklike Hof, en Daniël word Hoof van die Gilde van Wyse Manne. 

 

Verse 1-2;

1          IN die derde jaar van die regering van Jójakim, die koning van Juda, het Nebukadnésar, die koning van Babel, na Jerusalem gekom en dit beleër.

2          En die Here het Jójakim, die koning van Juda, in sy hand gegee, met ‘n gedeelte van die voorwerpe van die huis van God, en hy het hulle na die land Sínear gebring in die huis van sy god, en die voorwerpe het hy in die skathuis van sy god gebring”.

 

Vergelyk hiermee: 2 Kon. 24:1-2;   2 Kron. 36:5-7;   Jer. 25:1;   Jer. 52:12-30.

Jójakim, die koning van Juda, het in Jerusalem geregeer, en dit was in die derde jaar van sy regering dat Nebukadnésar, koning van Babilon teen Jerusalem opgetrek en dit beleër het.  Maar hy kon nie sy veldtog voleindig tot in die vierde jaar van Jójakim se regering nie, want hy moes eers teen die koning van Egipte veg.  Hy het hom in die slag van Carchemish in die jaar 605 v.C. verslaan.

 

Die heidense konings het dit as ‘n groot eer beskou wanneer hulle van die heilige voorwerpe wat vir die aanbidding van die Lewende God van Israel bedoel was, na die tempels van hulle gode kon bring.  Dit is dus vanselfsprekend dat die heilige voorwerpe van die huis van God een van die eerste eise was wat Nebukadnésar gestel het.  Etlike jare voor dit het Hiskía reeds hierdie waardevolle voorwerpe aan boodskappers van Babilon getoon. 

Die Profeet Jesaja het in Jesaja 39 gewaarsku dat die dag sou kom dat Babilon hulle met geweld sou kom neem.  Dit is met hierdie gedeeltelike wegvoering daarvan bewaarheid en heeltemal vervul in twee latere fases van ballingskap wat in die jare 597 en 586 v.C. voltooi is.  Nebukadnésar se dranksugtige en losbandige kleinseun Bélsasar sou later hierdie heilige voorwerpe ontheilig deur dit in een van sy dronk partye te gebruik in ‘n gebaar van openlike veragting van die Lewende God uit wie se Tempel hulle verwyder is. 

Sien: Daniël 5:1-4. 

Laat dit ook vir ons ‘n les wees, dat ons nie ons eie liggame wat gemaak is om ‘n tempel van die Heilige Gees te wees - (1 Kor. 3:17; 1 Kor. 6:19-20), in die hande van die Satan te laat val nie, wat dit sekerlik sal verneder en God daardeur sal onteer. 

In Jeremia 25:9 word Nebukadnésar die dienaar van God genoem.  Dit was omdat hy die instrument in die hand van God was om sy straf oor die Huis van Juda uit te voer vir haar sonde.  Dit is op dieselfde wyse dat die HERE nou in ons tyd vir Soviet Rusland toelaat om teen die Christen Weste op te trek om as roede in die hand van God te dien omdat ons teen God gesondig het.

Lees: Eségiël 38: 16-17;   Eségiël 39:23-24.

 

In Daniël 1:2 lees ons: “En die Here het Jójakim, die koning van Juda, in sy (Nebukadnésar) hand gegee”.  Dit is ‘n aanduiding dat God nog in beheer is van die sake van hierdie wêreld, al het Adam dit ook in die hand van Satan oorgegee. Hier begin vir die eerste keer die oorplasing van die soewereiniteit van Israel in die hande van die Chaldeërs - “daardie kwaai en onstuimige nasie” - (Hab. 1:6), en die begin van “die tye van die nasies” waarna ons Here Jesus in Lukas 21:24 verwys het. 

Dit is van die uiterste belang dat ons die uiteindelike hand van God in alle opgang en verval van nasies sal sien! Daniël het dit duidelik raakgesien en onomwonde erken - (Daniël 2:21), en dit voor die eerste hoof van hierdie ry van Heidense Oppermag bely - (Daniël 2:37-38).

 

Die Here GOD het Homself aan Israel geopenbaar soos Hy Homself nie aan die wêreld geopenbaar het nie.  Die HERE het Homself in Israel vir ewig gevestig; Hy sal sy hand vir ewig oor Israel hou.  Maar met die heidense ryke is dit nie so nie. Vir hulle is Hy “die God van die Hemel” - (Dan. 2:37).  Dit is nie net as gevolg van ‘n spesiale guns aan Israel nie, maar omdat Israel as gevolg van haar besonderse geboorte en opleiding, deur die eeue in meerdere en mindere mate in die bewuste teenwoordigheid van God gewandel het; en omdat die heidense nasies netso as gevolg van hulle geboorte - (hier kom die feit van die saad weer in) en hulle lewenswandel wat hulle verkies het, nie bewus is van die teenwoordigheid van God, of van die Lig wat sy teenwoordigheid bied nie. 

 

Vandaar die feit dat die Profete en Godsmanne van Israel altyd vir Israel nader aan God wil laat beweeg, en diegene wat onder heidense invloed staan, altyd streef om ons van onder die Goddelike Teenwoordigheid uit te kry.  Ons kan dit so duidelik sien wanneer ons die warmte en innigheid van die Bybel vergelyk met die koudheid van die sekulêre geskrifte van die wat die HERE nie ken nie. 

 

Verse 3-4;

3          Daarop het die koning aan Áspenas, die owerste van sy hofdienaars, bevel gegee om uit die kinders van Israel, uit die koninklike geslag sowel as uit die edeles, te bring:

4          jong seuns aan wie geen enkele liggaamsgebrek was nie, maar wat mooi van aansien was en vernuftig in allerhande wysheid en in besit van kennis en insig in wetenskap, en wat bekwaam was om in die paleis van die koning te dien; en om hulle die skrif en die taal van die Chaldeërs te leer.

Dit wat ons in vers drie lees, is alreeds deur Jesaja die Profeet in Jesaja 39:7 en 2 Konings 20:18, voorspel as ‘n straf oor die Huis van Juda.  Maar dit wat as ‘n straf bedoel was, het God in ‘n seën verander.  En dit is presies net hoe wonderlik God werk in die lewe van Israel en in die lewe van die individu.  Omdat ons gesondig het, moet God ons ook straf, maar nadat dit alles verby is, dan moet ons erken, dat al was dit swaar terwyl dit aan die gang was, was dit tog tot ons ewige beswil. 

Die straf wat voorspel was vir die Huis van Juda, was uitgevoer want Daniël en sy metgeselle was van die koninklike saad, maar in daardie straf was daar ‘n groot seën, want daaruit het ons die wonderlike Boek van Daniël, ‘n ware bron van kennis en Goddelike Openbaring.  Dit is waar dat: “vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk”- (Rom. 8:28).  Dit was dieselfde in die geval van Josef.

 

Daniël en sy metgeselle moes in die skrif en die taal van die Chaldeërs onderrig word, dit is, in die wysheid, kennis en wetenskap van hierdie vreemde volk.  Ons onthou dat Moses ook in al die wysheid en kennis van Egipte onderrig was.  Die kennis, wetenskap, geleerdheid van Babilon was in daardie tyd baie groot. Moderne uitgrawings toon die standaard van kultuur, beskawing en geleerdheid wat Babilon bereik het. 

 

Die Profeet Jesaja verwys na hierdie geleerdheid in Jes. 47:10, waarin hy die oordeel van God oor Babilon uitspreek.  In die tyd van Daniël was Babilon die middelpunt van al die geleerdheid en kennis van die wêreld, net soos Egipte dit was in die tyd van Moses.  Laat dit ook vir ons ‘n les wees, want al sou ons al die kennis en geleerdheid van die wêreld hê en die enige waaragtige God nie ken nie, en sy Seun wat Hy gestuur het - (sien Joh. 17:3), sal ons verlore wees, en verlei word deur ons eie wysheid en kennis.

 

Dit is ook opmerklik en van baie groot betekenis dat die towery en besweringe ook in Babilon met al haar kennis gepaard gegaan het, net soos in Egipte in die tyd van Moses.  In my boek “Die Boek van Openbaring” het ek beskryf hoedat hierdie towerye en kennis van okkulte magte, vanaf die Stad Babilon, geleidelik na Rome verskuif het, en op ‘n subtiele wyse verweef geraak het in die Babiloniese Stelsel wat in sy Politieke, Ekonomiese en Godsdienstige fases die wêreld vasgevang het. 

 

En nou in ons tyd op die vooraand van die finale vernietiging van hierdie hele stelsel staan die kennis en die wetenskap so hoog, dat dit God openlik uitdaag; en hierin begin die towery en die okkultisme weer al meer en meer sy kop uitsteek.  Waarlik, wanneer ons die Bybel verhaal goed verstaan, dan sien ons dit is Satan teen God, die Antichris teen Christus, elkeen met hulle onderskeie verteenwoordigers op aarde.  Dit sal vir ons al meer en meer ontvou, soos ons met die Boek van Daniël verder gaan.

 


Vers 5;

En die koning het vir hulle ‘n daaglikse porsie bestem uit die spys van die koning en van die wyn wat hy gedrink het; om hulle so drie jaar lank op te voed, sodat hulle aan die einde daarvan voor die koning kan dien. 

Hierdie voedsel wat op die koning se tafel voorgesit is, was natuurlik van die allerbeste, maar dit was ook aan afgode geoffer.  Voedsel neem ‘n baie groot plek in, in die lewe van die mens, en as dit reg gebruik word, is daar niks mee verkeerd nie.  Maar juis as gevolg van hierdie feit, het die voedsel in die alledaagse lewe van die heidene ook baie nou gepaard gegaan met hulle godsdiens.  Ons het ‘n goeie voorbeeld hiervan in die Sendbriewe van die Apostel Paulus aan die Korinthiërs.

Lees self 1 Korinthiërs hoofstuk 8.

Maar tussen hierdie voedsel sou daar ook baie onrein dinge wees wat die Wet van die HERE verbied het om te eet.  Daniël was baie jonk toe hy in Babilon aangekom het, na skatting omtrent 17 jaar, net soos Josef toe hy deur sy broers as slaaf verkoop is, en soos Dawid toe hy Góliat verslaan het.  Daniël was nou in die vreemde, weg van sy ouers af, maar nie weg van God af nie. 

Inteendeel, nou sou hy nog meer aan die Woord kleef as ooit tevore, want dit sou vir hom ‘n lig op sy pad en ‘n lamp vir sy voet wees - (Ps. 119:105).

En:

“Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou ? Deur dit te hou na u woord - (Ps. 119:9).

Hy sou onthou het dat die Here in Lev. 11:44 gesê het:

Want Ek is die HERE julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig; daarom, verontreinig julle self nie deur enige ongedierte wat op die aarde kruip nie. 

In Levítikus 11, sal ons die hele opgaaf kry van rein en onrein diere, waaronder natuurlik ook die vark.  Daniël het dit in die vreemde onthou, en was vasberade om dit ook hier in die vreemde te onderhou; al was hy weg van die tempel af, en onder die oë van sy ouers en sy priester (predikant of pastoor) uit, was hy nie onder die oë van sy God uit nie.  Hy was vir hom ‘n werklikheid, net soos vir baie van die Godsmanne wat hom vooruitgegaan het, en voor vriend en vyand kon sê:

“- - - - So waar as die HERE, die God van Israel, leef, voor wie se aangesig ek staan - - - - - -” - (1 Kon. 17:1).

Dit was Daniël se geheim.

 

Verse 6-7;

6          En onder hulle was uit die kinders van Juda: Daniël, Hanánja, Mísael en Asárja.

7          Maar die owerste van die hofdienaars het hulle ander name gegee: Daniël het hy Béltsasar genoem, en Hanánja Sadrag, en Mísael Mesag, en Asárja Abednégo.

In hierdie verandering van hulle name sien ons weer die opstand van Satan teen God: hulle Hebreeuse name het almal die Naam van God in hulle gehad, en nou in hulle nuwe heidense name is in elkeen ‘n naam van een of ander van die Babiloniese afgode begrepe. 

Dit was natuurlik die algemene gebruik in daardie tyd dat die veroweraar die name van die verowerde verander om daardeur sy beheer en gesag oor die verowerde aan te dui.  Een van die beste voorbeelde hiervan en met die mees verrykende gevolge, is die van die verandering van die naam van die Tien Stamme toe die Assiriërs hulle in ballingskap weggevoer het.  Dit is die rede waarom hulle in die annale van die sekulêre geskiedenis net na hierdie ballingskap verdwyn het en “verlore” geraak het.  U sal ‘n volledige uiteensetting hiervan in ons Reeks: “Die Verlore Tien Stamme van Israel” kry.  

 

Die element “el” in Daniël en Mísael is een van die Name van die enige waaragtige God, en die element “ja” in Hanánja en Asárja is ‘n verkorte vorm van Yahweh wat ook as Jehova geskryf word, en nog een van God se Name is.

 

Daniël: - beteken dan “God is my Regter” en sy nuwe heidense naam Béltsasar die skatmeester of skat van Bel (of Baäl).

Hanánja: - beteken “Ja” of “Jah” is genadig, of genadiglik gegee deur “Ja”, en sy

nuwe heidense naam Sadrag beteken boodskapper of lig van die songod.

Mísael: - wie is soos God? Sy nuwe heidense naam word Mesag wat beteken wie is soos Aku, die maangod.

Asárja: - beteken “Ja”, of God is my hulp.  Sy naam word verander in Abednégo wat die dienskneg of aanbidder van Nego beteken.

 

In hierdie verandering van hulle name na heidense name is die naam van God wat in elkeen van hulle name bevat is, en wat die beskerming en die gemeenskap van die God van Israel beteken het, van hulle weggeneem.  Hulle nuwe name het hulle elkeen in verband gebring met die vals gode van Babilon, en was die eerste stap in die rigting om Daniël en sy metgeselle in die heidense geloof en geleerdheid van ou Babilon op te voed.  Op hierdie wyse was hierdie jong manne dus reg van die staanspoor af in ‘n posisie van die grootste beproewing en versoeking geplaas.

 

Verse 8-9;

8          En Daniël het hom voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning of met die wyn wat hy gedrink het nie; daarom het hy die owerste van die hofdienaars vergunning gevra dat hy hom nie hoef te verontreinig nie.

9          En God het aan Daniël guns en barmhartigheid verleen by die owerste van die hofdienaars.

 

Dit is belangrik om op te merk dat Daniël en sy vriende reg van die begin af die regte standpunt ingeneem het.  Baiekeer wanneer mense met dwaling en korrupsie een valse leringe te doen kry, is hulle geneig om in die begin eers kompromie te maak, en kan hulle dan later nie weer op die regte plek uitkom nie. Dit is van die uiterste belang om reg van die staanspoor af die regte standpunt in te neem.  Daniël en sy vriende het dit gedoen, en God het hulle daarvoor geëer. Hy sal dit met elkeen doen wat Hom gehoorsaam is en aan Hom die eerste plek in hulle lewens gee.

 

Verse 10-17;

10         En die owerste van die hofdienaars het aan Daniël gesê: Ek vrees my heer die koning, wat julle voedsel en julle drank vasgestel het; want waarom moet hy sien dat julle aangesigte meer vervalle is as dié van die jong seuns wat van julle leeftyd is, sodat julle my hoof by die koning met skuld sou belaai?

11         Maar Daniël het aan die bediende gesê wat die owerste van die hofdienaars oor Daniël, Hanánja, Mísael en Asárja aangestel het:

12         Stel tog u dienaars tien dae lank op die proef, en laat hulle ons van die groente gee om te eet en water om te drink;

13         laat daarna ons voorkoms en die voorkoms van die jong seuns wat die spys van die koning eet, deur u besigtig word; handel dan met u dienaars soos u bevinding sal wees.

14         Hy het toe na hulle geluister in hierdie saak en hulle tien dae lank op die proef gestel.

15         En aan die einde van tien dae het hulle voorkoms beter en hulle voller van vlees gelyk as al die jong seuns wat die spys van die koning geëet het.

16         So het dan die bediende hulle spys en die wyn wat hulle moes drink, weggeneem en aan hulle groente gegee.

17         En hierdie vier jong seuns - God het aan hulle wetenskap en verstand in allerhande geskrifte en wysheid gegee; ook het Daniël verstand gehad van allerhande gesigte en drome.

 

Dit was Daniël en sy vriende se beslistheid om hulle te hou by al die voorskrifte van die Wet van God wat hulle laat uitblink het bokant al die ander jong seuns. Christene wat vandag redeneer dat dit vir ons nie meer nodig is om ons by al die voedselwette van God te hou nie, omdat dit nie meer vir ons noodsaaklik is om so te doen nie, het nie genoeg kennis geneem van God se reaksie op die standpunt van Daniël en sy vriende nie.

 

Verse 18 tot 20;

18         En aan die einde van die dae wat die koning vasgestel het om hulle in te bring, het die owerste van die hofdienaars hulle voor Nebukadnésar gebring.

19         En die koning het met hulle gespreek, en onder hulle almal is daar niemand gevind soos Daniël, Hanánja, Mísael en Asárja nie. So het hulle dan voor die koning gedien.

20         En in enige saak van wyse insig waarin die koning hulle ondervra het, het hy bevind dat hulle al die geleerdes en besweerders in sy hele koninkryk tien maal oortref het. 

Hieruit kan ons sien dat dit voorwaar betaal om God opreg te dien.  Hy is onveranderlik, en wat Hy vir die een doen, sal Hy ook vir die ander doen.  Hy is geen aannemer van die persoon nie.  Al hierdie dinge is ook vir ons tot lering opgeskryf, vir ons op wie die eindes van die eeue gekom het.  Daniël het groter wysheid en geleerdheid van die Here ontvang as wat enige Chaldeër hom ooit sou kon gee het. 

 

Die Babiloniese sterrewiggelaars en waarsêers het die lewens van hulle mense deur hulle drome en gesigte en voortekens beheer, die meeste waarvan vals was.  Baie daarvan was direk van die duiwel, en onder die beheer van bose geeste. Laat ons mooi hierop let, want hier in ons tyd wanneer Babilon finaal op die punt staan om te swig voor die Koninkryk van God, kook hierdie dinge weer op soos in ‘n skuimende pot waarin al die afsaksels van die eeue van onheil weer na boontoe gedryf word. 

Laat ons tog versigtig wees, en nie op enige gebied met hierdie Babiloniese Wêreld Stelsel kompromie maak nie.

Lees verseker 1 Johannes 2:15-17.

 

Ons kan deur onstandvastigheid maklik die wysheid en die inspirasie van die Heilige Gees vir ‘n vals gees en ‘n vals wysheid verruil sonder dat ons dit agterkom.  God het aan Daniël iets oneindig beter gegee as wat Babilon hom kon gee: Hy het aan hom werklike drome en waaragtige kennis gegee.  God spreek nog in drome en visioene en openbaringe.  Laat ons vervul word met die Heilige Gees dat ons waarlik sal onderskei tussen dit wat van God is en dit wat van die duiwel is.  Laat ons bid vir die ware gawe van “onderskeiding van geeste”. 

 

Vers 21;

En Daniël was daar tot die eerste jaar van koning Kores. 

Dit is baie eenvoudige woorde hierdie, en baie kort en bondig gestel, soos al die woorde van die Bybel, maar hoe vol van betekenis!

“En Daniël was daar tot - - - - “. 

Hy het reg deur die hele ampstermyn van die heidense koning Nebukadnésar gebly.  Hy het dikwels die koning vir sy trots en astrantheid bestraf.  Hy het gelewe om die inname van Babilon en die val van Bélsasar te sien.  Hy het dwarsdeur die tyd van Daríus die Meder geleef, en dit ten spyte van al die intriges en komplotte van sy vyande.  Sy geloof was dikwels tot die uiterste toe beproef.

 

Daniël het staande gebly en die dwingelandy van die Babiloniese en Persiese Konings oorleef; in sy leeftyd het hy groot en belangrike geskiedkundige gebeure deurleef: daar was die sewentigjarige ballingskap van die Huis van Juda, soos deur die Profeet Elía voorspel, en al die strawwe oor die hele Israel as gevolg van hulle sonde. 

Aan die begin van die Boek vind ons hom ‘n jong, getroue en beginselvaste jongman; in die middel van die Boek, in die negende Hoofstuk is hy al ‘n ou man, en hy het betreur die sonde van sy volk, en roep hartstogtelik uit vir die herstel van Jerusalem; aan die einde hou hy nog aan en uit tot in die eerste jaar van Kores, die Persiese koning wat die dekreet vir die terugkeer na Jerusalem en die herbou van die Tempel uitgevaardig het. 

 

Laat ons Daniël se voorbeeld van getrouheid tot aan die einde navolg, en nadat ons alles volbring het, nog staande bly.

 

 

 

Daily Quotes

Joh 1:29 The next day John seeth Jesus coming unto him, and saith, Behold the Lamb of God, which taketh away the sin of the world.

MiniCalendar

July 2016
MTWTFSS
123
45678910
11121314151617
18192021222324
25262728293031

Vinaora Visitors Counter

142362
This_MonthThis_Month1687
All daysAll days142362