new-top-banner-english

Die kruis


E-Boek: Die Kruis

Deel 1

Wat Het Op Die Kruis Gebeur?

Verwerking van transkripsie gemaak van kasset no. B039.  [16.4.1976]

 

Ons lees uit Jesaja 53:1-12;

1          WIE het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar?

2          Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.

3          Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.

4          Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte -- dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.

5          Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

6          Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.

7          Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders -- ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.

8          Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote -- wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.

9          En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by ‘n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie.

10        Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ‘n skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees.

11        Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hy sal hulle skuld dra.

12        Daarom sal Ek Hom ‘n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.

 

Mag die HERE sy woord ryklik aan ons harte seën.

Wanneer u ‘n studie maak van hierdie hoofstuk dan sal u sien dat 12 keer word die gedagte van plaasvervanging hierin uitgebring en dit is deel van die kern van die boodskap wat ek vanoggend met u wil deel. 

U sal vir my sê dit is baie welbekend.  Wel, oordeel vir uself nadat u geluister het of dit wel vir u só bekend is as wat u gedink het.  Ek glo, dat as ons hierdie waarheid van die plaasvervanging van die Here Jesus in sy volheid snap, dan gaan hierdie wêreld ‘n heerlikheid sien onder die kinders van God wat hulle nog nooit gesien het nie.

Ek dank die HERE, baie van u het al hierdie getuienis gehoor, maar dank die HERE hoe ek ‘n deel daarvan op ‘n magtige wyse voor my oë sien gebeur het.  Onthou van daardie geval waarvan ek u vertel het.  Die siek man wat nie regop kon loop nie.  Hy het ‘n baie groot siekte in sy rug gehad, ‘n kiem wat besig was om sy rugmurg op te vreet.

Toe hy na my toe kom loop hy so krom (amper soos ‘n half oop knipmes) en hy kon nie op ‘n stoel sit nie en hierdie kiem het deur sy rugmurg gegaan tot in sy regterbeen.  Sy regterbeen was so opgetrek en dunner as die ander een. Terwyl hy daar op die bed gelê het en ek met hom gepraat het en net vir hom Jesaja 53 oopgemaak het, toe raak die HERE hom net dáár aan, nog voordat ek my hande op hom gelê het of vir hom ‘n gebed gedoen het.

Daardie man het van die bed af opgespring en begin ronddans van blydskap, penregop en op al twee bene, volmaak gesond, net met die aanhoor van Jesaja 53.  Die Heilige Gees het dit vir hierdie man oopgemaak.

 

My broer en suster, kom ons gaan net ‘n bietjie terug en ons kyk na die Here Jesus in die tuin van Getsémané.  Daar in die tuin van Getsémané wil ek hê moet u ‘n oomblik saam met my vertoef, dat u sal sien en my baie goed sal verstaan.  Die een groot fout wat ons gemaak het is om, sonder dat ons dit besef, het ons tog ‘n mate gehad van net die bejammering van die Here Jesus.

Sonder dat ons dit besef, het ons die Here Jesus nog net in die tuin van Getsémané laat bly of net aan die kruis waar Hy gehang het.  Tot daar het ons baiekeer na ‘n Nagmaalsdiens en ‘n Goeie Vrydag gekom.  Deur die eeue heen het ons opgekyk na die Here Jesus.  O, dit het ons harte gebreek om hom daar gebreek te sien aan die kruis, en dit moet so wees.  Maar laat ons die betekenis daarvan verstaan en laat ons verder gaan en sien wat God daar vir ons bewerkstellig het. 

Ons lees saam uit Matthéüs 26:36-46;

Ons gaan net ‘n bietjie saam met die Here Jesus en daardie drie dissipels van Hom in die tuin van Getsémané.

36        TOE kom Jesus met hulle in ‘n plek met die naam van Getsémané, en Hy sê vir die dissipels: Sit hier onderwyl Ek daar gaan bid.

37        En Hy neem Petrus en die twee seuns van Sebedéüs saam en begin bedroef en benoud word.

38        Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My.

39        En Hy het ‘n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.

40        En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie?

41        Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.

42        Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.

43        Toe kom Hy en vind hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar.

44        En Hy het hulle met rus gelaat en weer vir die derde maal gaan bid en dieselfde woorde gesê.

45        Daarop kom Hy by sy dissipels en sê vir hulle: Slaap maar voort en rus. Kyk, die uur is naby, en die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars.

46        Staan op, laat ons gaan; kyk, hy is naby wat My verraai.

 

Die eerste groot waarheid wat ons moet besef voordat ek ‘n bietjie dieper met u wil kyk en dit is wat baie min van God se kinders verstaan omtrent die kruis.  Baie min verstaan die verlossingsplan van God ook hier in die tuin van Getsémané, waar ons gaan stilstaan.  In die plan van God, ons kan dit nie verstaan in sy diepte nie, die Heilige Gees kan dit alleenlik aan ons openbaar. 

 

Toe die Here Jesus daar in die tuin van Getsémané ingegaan het, het daar ‘n transformasie met Hom plaasgevind.  Hy het daar met die sonde ineen gesmelt om uiteindelik die sondaar se plek te neem.  Dit was Sy stryd.  U moet tog nooit dink dat die Here Jesus bang was vir daardie spykers deur sy hande en voete nie.  Tien duisende en miljoene van martelare deur die eeue heen het dit ook deurgegaan.

 

Die geskiedenis vertel vir ons dat dit één van die Christene se groot oorredingskragte by die heidene was.  Hulle kon dit nie verstaan hoedat die Christene met blydskap en met ‘n lied in hul harte aan die brandstapel kon brand nie.  Dat hulle met blydskap en ‘n lied in hul hart daardie verskeurende wilde diere tegemoet kon gegaan het en hulle nie soveel gevrees het nie.  So, dit was nie sy stryd nie.  Sy stryd was dat Hy die reine, in my plek, die onreine moes word.  Dat Hy werklik ‘n transformasie moes ondergaan.  Dat Hy werklik sonde was.  Dit was die dood, sodat ons hierdie substitusie, hierdie plaasvervanging kan begryp.  Ek glo, as ons dít kan begryp my broer en suster, dan gaan daar ‘n verandering in ons plaasvind wat die doel en wil van God is, dat daar ‘n transformasie in u en my moet plaasvind, vanaf die sondaar na Jesus toe.  Dat ons die transformasie sal kry om dan werklik te verander (moet my nie nou verkeerd verstaan nie) in die Here Jesus, nie Jesus as sulks nie, maar soos Hy gesê het, soos die Vader en Ek een is, so sal ons ook een wees.

 

As ek weer moet terugkom na my liggaam, watter deel van my liggaam is ek?  As ek ‘n grusame voorbeeld mag gebruik.  As my kop afgekap word en hy word daar eenkant gesit, is dit my liggaam?  Sal my kop funksioneer vir die doel wat hy is, sonder die res van my liggaam? Is my kop my liggaam? Is my voet, my been, my liggaam? Wat is my liggaam? My hele liggaam, is my liggaam! 

So is ons en Christus een liggaam, wys die Skrif vir ons.  Daarin kan ek nie nou in sy diepte ingaan nie, maar dit wys vir my dat so is Christus.  Hy is die hoof en ons die liggaam.  Maar dan moet daar in ons liggaam ‘n transformasie plaasvind na Christus toe.  Soos Hy daar in die tuin geworstel het en aan die kruis uiteindelik gehang het, dat Hy, ék geword het, so moet ek ook deel van Hom word. 

 

In die plan, van God verder, toe Jesus daar gehang het, toe was dit ú en ék wat daar in Hom gehang het.  Dit is wat die Christelike geloof is.  Jesus het aan die kruis met u en my kom plekke ruil.  Maar nou, is dit nie net die heerlikheid van om soos Christus te word nie, maar is dit ook om die lyding saam met Hom deur te maak.  Om myself in Hom, soos Hy Hom in my, aan die Vader se wil te onderwerp. 

Ons sal nooit verstaan wat dit vir Jesus beteken het, dat Hy die reine, te word soos ék die onreine nie.  Ons sal dit nooit verstaan wat dit vir Jesus beteken het om die prys van lewe te betaal, dat Hy drie dae werklik dood was, afgesny van die lewe van God.  Ons sal dit nie kan verstaan nie, dit is te diep maar ons kan dit smaak en daar kan ‘n openbaring na ons toe kom.  Dan sal daar ‘n verandering plaasvind.

Kom ons kyk net na ‘n paar Skrifte.

Johannes 10:17-18;

Daardie pragtige hoofstuk oor die goeie herder, waar Hy gesê het:

17         Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit te neem.

18         Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.

“Hy het sy lewe afgelê”. 

Waarvoor?

Sodat ek, Sy lewe mag opneem.

Wie se lewe?

Die kind van God het Jesus se lewe!  Wat ‘n ewige is, wat ek nooit sou gekry het as Hy dit nie vir my afgelê het nie.  Ek sal dit nooit kry as ek dit nie in geloof en begrip opneem nie.

Lees Johannes 11:25-26;

25        Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;

26        en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?

Ek sal meer hieroor praat in my boodskap oor “Die openbaarmaking van die seuns van God”, ( kasset nr. B 040 ) wanneer ek in meer besonderhede daarop sal ingaan.  Ek wil vir u sê, ek het vir die HERE gebid, soos in Januarie na die middernagdiens al, oor die onderwerpe waaroor ek hierdie Paasnaweek gaan praat want daar is advertensies wat lank voor die tyd moet uitgaan en reëlings wat getref moet word.  Ek het die HERE se aangesig gesoek en gesê: “HERE, gee my ‘n tema.  HERE, gee my ‘n reeks van boodskappe en alhoewel elkeen van hierdie, deur die genade van die HERE, ‘n boodskap op sy eie sal wees, sal almal een tema word. 

 

Ek sal vanaand praat oor wat “Die openbaarmaking van die seuns van God” is want dit is hier waar dit begin.  Ek sal nie daar uitkom as ek nie hier regkom en dit nie hier reg verstaan nie. 

Ons ken almal daardie welbekende:

2 Korinthiërs 5:21;

Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. 

 

Dit is soos daardie klere wat u aan u liggaam het.  Dit is nodig om die klere aan te hê maar dit is nie deel van u liggaam nie. Dit is maar net ‘n bedekking. 

 

Dat die Here Jesus, God het Hom wat geen sonde geken het nie, luister, sonde gemaak.  Ek glo nie God het ons sonde aan Hom toe gereken nie.  Die Heilige Gees moet dit aan u openbaar.  Daar sal iets in u hart ontplof wat heerlik gaan wees. Halleluja!

O, my broer en suster, ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie! Dit moet met die kerk gebeur.  Ek sien dit nog nie in die geheel nie.  Maar ek dank God vir sy goddelike plan, want Satan dink dat hy voor die einde, die oorwinning gaan behaal, maar hy het nog nie te doen gekry met die liggaam van Christus nie. 

 

Hy het nog nie te doen gekry met ‘n ontmoeting, met ‘n ontwaakte, sterk gemeente nie.  Hy het nog nie te doen gekry met die seun en dogter van God nie.  God se antwoord; onoorwinlik, onvernietigbaar en onoortreflik, heerlik, wonderlik. 

 

Hy het Hom sonde gemaak wat geen sonde geken het nie.  Maar dit is nie die end nie. Ek kan amper sê, die negatiewe kant. 

Hier staan Jesus, nie met my sonde toegereken nie, maar Hy is die sondaar.

Hy is ék, en so het Hy kruis toe gegaan.

 Wie sou ooit ‘n vinger op Jesus kon lê, die Seun van God?  Hy is die Skepper van hemel en aarde.

Wie sou Hom ooit kon aanraak as Hy nie ék geword het nie? 

So is Hy, so is ék. 

Daar hang ék in Hom aan die kruis. 

Ek moet dit sien. 

Ek moet dit verstaan.

Dit moet in my wese inkom! 

Halleluja. 

 

Broer en suster, ek voel dit is hier waar die kinders van God nie ‘n prop op die bottel moet sit nie.  Wanneer die heerlikheid kom en die HERE wil u laat drink, spring van blydskap, ek voel dit is hier waar uitsinnigheid sal kom, die waaragtige uitsinnigheid wat geen mens sal kan keer nie. 

Ek sien ‘n openbaring in die kerk vir die mense wat dit sal sien, heerlik gaan wees.  Dit is die negatiewe kant. 

God het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde gemaak sodat ék mag word die geregtigheid van God in Hom. 

Sodat wanneer ek dit sien en ek het by die kruis gekom, en ek het by Hom gekom, dat ek kan sien, ék is nou die geregtigheid van God in Jesus. 

 

Wie sal die beskuldigings teen my inbring? 

Wie kan die vinger op my druk? 

Ek staan voor God, soos Jesus. 

Halleluja!  Halleluja!  Halleluja!

Dit moes Hy uitwerk in die tuin van Getsémané. 

Hy moes met my plekke ruil. 

Hy moes ék die vuil sondaar word. 

Ek moes Hy die reine sondelose word. 

Dit was die drink van die beker.  Ek noem dit die heerlike omruil!

Halleluja!

In Johannes 14:12;

Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo - die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan. 

 

Maar my broer en suster, dit was nie maklik vir Jesus nie.  Want om dit te word, moes Hy daardie beker drink, moes Hy daardie gedaante verwisseling ondergaan en dit was Sy stryd en daarvoor moes Hy drie keer bid, sodat sy sweet eindelik geword het soos druppels bloed. 

Maar daar was een ding, as ek dit so mag noem, net by wyse van illustrasie, dink dit maar vir uself verder deur.  Daar was een ding, wat sy redding was in hierdie situasie, Hy was absoluut onderworpe aan die wil van die Vader.  Dit maak nie saak nie hoe afskuwelik die beker was nie.  Toe sê Hy: “Vader dit is klaar”.  Nie My wil nie, Ek walg My aan hierdie beker.

Dit is die waarheid.  So staan dit in God se woord, anders waarvoor het Hy gebid?  Ek wou nie hierdie beker hê nie.  Moenie laat iemand vir u sê Jesus het sommer met alles ingeval nie.  Hy het Homself onderwerp.  Hy was in alle opsigte versoek, net soos ons, uitgeslote die sonde.  Die grootste versoeking vir die mens is die onderwerping aan die Vader se wil.  Ek wil vanmôre vir u sê en ek sluit myself daarby in, ons probleem, en hierin lê ‘n tragedie, wie van ons is nog volkome onderworpe aan die Vader se wil?  As Jesus dit nie was nie was ons verlore want hier was sy uiterste toets.

Kan ons Hom ooit genoeg prys? 

Kan ons Hom ooit genoeg dank? 

Is daar iets wat ek kan doen om my blydskap nog meer aan Hom te toon?

“Ja, as julle My liefhet, bewaar My gebooie”. 

 

Dit beteken nie soos op ‘n dag soos hierdie of op ‘n ander geleentheid en weer, moet u my nie verkeerd verstaan nie.  Ons het nie meer baie tyd oor nie.  Ons moet reguit praat.  Dit beteken nie dat ek by menige geleentheid met my hande in die lug sal staan nie, verstaan my nie verkeerd nie, ek dank die HERE wat hande opsteek vir my beteken.  Maar dit beteken nie dat ek my hande in die lug sal steek en trane wat oor my wange loop in bewondering oor ‘n gekruisigde Here Jesus nie, en ‘n sekere soort gevoel in my hart te kry en dan loop ek hier uit by die kerk en loop dan weer my ou paadjie.  Dit beteken nie dit nie.  Daar moet ‘n transformasie plaasvind in my, en ek moet onderworpe word aan die Vader se wil.  Dit is my liefde vir Hom. 

Daar sal oomblikke in u lewe kom dat op hierdie pad, dat u dinge sal moet doen wat u nie graag sal wil doen nie en u hele wese teen sal rebelleer.  Maar wanneer u hierdie transformasie ondergaan het, u is sy liggaam, dan sal u sê: “Vader, nie my wil nie maar U wil”. 

Al sal ek ook teen ‘n paar Getsémanés kom, al sal dit u ook kos om ‘n paar keer deur daardie sweet van verandering moet, van bloed, maar u sal dit moet doen.  Dan sal ons word wat God ons wil hê ons moet word. 

 

Toe die bid verby is, (Matt.26:36-46) toe Hy gesê het, nie My wil nie, maar U wil geskied, toe was die oorwinning behaal.  Die kruis het voorgelê, maar tog, as u my sal reg verstaan, was dit vir Hom niks, hier was sy toets.  Nou moet Hy net die wil van die Vader uitvoer.  Nou moet Hy net gaan doen wat nou nodig was om die Vader se plan te voltooi. 

Hy moes aan die kruis hang. 

Hy moes sterf. 

Hy moes die volle prys betaal, in die graf ingaan, want dit was alles die straf van die sonde en Hy moes weer op die 3de dag uit die graf opstaan, dit was deel van die verlossingsplan.  Dit moes gebeur. 

Maar toe Hy daar opstaan, toe sê Hy in:

Matthéüs 26:45-46;

45       Daarop kom Hy by sy dissipels en sê vir hulle: Slaap maar voort en rus. Kyk die uur is naby, en die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars. 

46       Staan op, laat ons gaan; kyk, hy is naby wat My verraai.

 

Die oorwinning was daar.  Prys sy Naam.  Nou kom die lang proses.  Die arrestasie in die tuin.  Die lang verhoor voor verskillende owerhede en so aan.  Hier staan Hy voor die hoëpriester en die hoëpriester moet Hom tot die dood veroordeel.  Wie was die hoëpriester? Die hoëpriester was onder die ou verbond, die middelaar tussen die volk en tussen God.  Die hoëpriester was die een wat eenkeer ‘n jaar met die bloed van die lam, alleen geregtig was om agter daardie gordyn in te gaan. 

Agter daardie gordyn was die Heilige der Heilige.  Daar was die versoendeksel en daar was die twee gerubs met uitgestrekte vlerke wat afgekyk het op die versoendeksel. Daar moes die priester eenkeer per jaar ingaan om die offer te bring.  Om versoening te doen vir die sondes van die volk.  Dit was die enigste plek, waar dit gedoen kon word.

Johannes die Doper sê:

“Daar is die Lam van God, wat die sonde van die wêreld wegneem”.

Dáár is die Lam, die enigste Lam!

 

Wie moes Hom offer?

Hy is nog onder die ou verbond gebore.  Die hoëpriester moes dit doen.  Die hoë priester moes die lam slag.  Die hoëpriester moes Hom tot die dood veroordeel.  Daar het Hy gestaan my broer en suster om die verbond te volbring.  Sy eie mense het Hom nie geken nie.  Hy het na sy eie gekom en sy eie het Hom nie geken nie.  Maar elkeen wat Hom aangeneem het aan hulle het Hy die mag gegee om kinders van God te word.

Hier kom die seuns van God weer in.  Dit is hierdie openbaring wat ons moet sien hier in die eindtyd. 

Daar staan in Jesaja 53:8 geskrywe;

“Terwille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom”.

Halleluja! Prys die naam van die HERE!

Nou, dit sal ook in die ander van ons boodskappe uitkom, geliefdes.  God het ook ‘n spesiale volk.  Sy Israel volk, waarvan ons ‘n deel is.  Vir daardie volk se sondes moes Jesus ook sterwe.  Daarom moes die hoëpriester Hom offer.  Daardie prys het Hy betaal. 

 

Nou gaan ons saam met Hom na die kruis.  Daar hang Hy aan die kruis, maar hoeveel weet, hoe en waarom Hy daar gehang het? Terwyl Hy daar aan die kruis hang, bespot die gepeupel Hom.  Terwyl Hy daar aan die kruis hang, gebeur daar ‘n paar magtige dinge in die natuur.  Die son word verduister, dit is asof die natuur nie daarna kon kyk nie.  Die natuur kon dit nie verstaan nie of liewer die natuur kon dit nie aanskou nie.  Die natuur kon dit nie verduur nie.  Dit is die Skepper, die HERE wat die sterre en uitspansel uitgegooi het, wat die son in sy baan geplaas het.  Dat Hy van God verlate moes wees!  Die natuur kon dit nie verstaan nie en kon dit nie verdra nie.

Ek glo, as ons dit sien sal ons vir ewig gebind wees aan die kruis.  Ons sal vir ewig gebonde wees aan God.  Sal die ewigheid lank genoeg wees om die Vader te dank vir só ‘n genade?  Sal die ewigheid lank genoeg wees om my Jesus te aanbid omdat Hy bereid was om uit die hemel te kom om dit vir my te kom doen?  Ek sal meer as ‘n ewigheid nodig hê om Hom daarvoor te loof en te prys. 

 

Deur hierdie plaasvervanging, prys die HERE, kon die Vader dus aan ons wettiglik die ewige lewe skenk.  Hy kon wettiglik aan ons sy eie natuur gee.  Dit is wat ons moet begin verstaan in hierdie dae as ek by die kruis gekom het en gewas is in die bloed van die Lam en ek sien dit, dan:

Het ek God se natuur. 

Ek Het God se krag.

Ek het God se outoriteit.

Ek het God se lewe. 

Die mense het nie geweet watter man daar aan die kruis gehang het nie.  Die mense het nie geweet dat Hy weer uit die dode sou opstaan nie.  Die dissipels het dit nie geweet nie, hulle het dit nie verstaan dat as Hy daar opstaan dan gaan word Hy die hoof van ‘n nuwe geslag.

‘n Nuwe geslag. 

Die Apostel Paulus sê in:

2 Korinthiërs 5:17; 

Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. 

 

My broer en suster, nie ‘n teks nie, nie iets om net oor te preek nie, dit is ‘n feit.  Dit moet ‘n feit word in u lewe en in my lewe.  Ek is ‘n nuwe skepping, ‘n nuwe soort mens, ek is weergebore.  Daar waar ek vantevore nie die ewige lewe gehad het nie, het ek nou die ewige lewe.  Waar ek vantevore sterflik was is ek nou onsterflik. 

Is dit die waarheid? Glo u dit?

Die HERE sê:

En elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit? - (Joh. 11:26). 

Dit is die waarheid! 

Hy sê:

“ - - - - Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde, gaan dan heen” - (Matt. 28:18). 

Ek gee vir julle die mag, die mag is in julle.  Julle is nou Ek. 

Johannes skryf in:

1 Johannes 4:17;

“- - - - - Soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld. 

Ek het u dalk veronreg, maar dink ‘n bietjie self daaroor na.  Ek glo as hierdie dinge waar is in ons, behoort ons dit te sien in ons lewens.  Ek behoort dit in die kerk te sien.  Die wêreld behoort dit te erken, dit is ander soort mense daardie.  Dit is ‘n nuwe ras, dit is ‘n nuwe geslag.  Dit is ‘n geslag van “Jesus-mense”. 

 

Net soos ons vandag, hoeveel geslagte, hoeveel rasse het ons nie in ons land nie.  Dit is die Zulu, Xhosa, Sotho ensovoorts.  Nou ja, miskien is die blanke, - dit is die Engelse, Hollanders, Duitsers ensovoorts, dit is verskillende geslagte en jy kan hulle uitken by sekere identiteite, die taal wat hulle praat, hulle liggaamsbou ensovoorts.  Dan moet hierdie nuwe geslag van “Jesus-lyn” uitgeken te kan word aan hulle kenmerke. 

Daar is twee soorte lewe. 

Die Grieks het twee woorde daarvoor.  Dit is die - “Zoe” en die “Psuche”.

Die Psuche is: -- die natuurlike lewe, die gewone lewe wat mense lewe.

Die Zoe is: -- die Gods lewe.  Dit is die lewe wat jy van God ontvang, die oomblik wat jy weergebore word. 

Dit is die lewe wat sy kwaliteit kry wanneer ek die kruis beter verstaan, soos wat ek vir u verduidelik het.  Net soos daar twee soorte sterftes is, die een sterfte is die natuurlike sterfte wanneer die liggaam sterf.  Die ander sterfte is die geestelike sterfte.  Dit is daardie geestelike sterfte wat die Here Jesus kom regmaak het, om aan ons die ewige lewe te gee.  Dan sal die liggaam ook opstaan as hy gesterf het. 

Want dieselfde Gees wat vir Jesus laat opstaan het, wat ons Sondag aan sal dink, is dieselfde Heilige Gees wat Jesus opgewek het uit die dode.  As Hy dan ook in my is, dan gaan Hy ook my liggaam uit die dode uithaal en weer lewendig maak.  Daardié lewe, wat ‘n werklike lewe is, is wat ek beter moet verstaan. 

Prys die Heer!

Daarom: Matthéüs 27:51; (ek eindig hiermee).

En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur;

Hoekom het daardie voorhangsel geskeur?

Omdat, toe die Here Jesus die prys betaal het, toe was daardie tydperk van daardie hoëpriester verby. 

Nou het Hy my Hoëpriester geword. 

Hy het vir my nou ‘n nuwe weg gemaak.

Hy het vir my ‘n nuwe genadetroon geskep.

Hy het vir my ‘n nuwe versoendeksel gemaak. (as ek dit so mag noem)

Hy het beter bloed daarop geplaas, sy eie bloed. 

Hierdie versoendeksel, hierdie plek agter die gordyn het Hy geskuiwe van die aarde af in die tempel, en dit verskuiwe na die hemel, sodat daar vir my ‘n nuwe weg is. 


Hebreërs 10:19-22; 

19        TERWYL ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus

20        op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees,

21        en ons ‘n groot priester oor die huis van God het,

22        laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water. 

‘n Nuwe en ‘n lewendige weg in die Heilige der Heilige, in die teenwoordigheid van God. 

Sodat ek nou nie meer ‘n aardse priester nodig het as ek in die teenwoordigheid van God wil verskyn nie. 

Ek hoef nie na Jerusalem eenkeer per jaar te gaan en dit deur ‘n priester wat maar net in my plek gaan nie. 

Nou kan ek self agter daardie gordyn ingaan. 

Ek gaan nou in die Bloed van Jesus en staan in die teenwoordigheid van my Vader want: - - - -

ek is van Sy selfde geaardheid,

ek is Sy kind,

ek is Sy natuur,

ek is Sy geslag,

ek is Sy ras,

- - - - daarom het daardie gordyn geskeur. 

 

Hulle sê vir ons, die Jode het na dit, die gordyn probeer aanmekaar werk, probeer herstel, maar die krag was weg!  Die lewe was weg!

‘n Rukkie later en ‘n endjie daarvan, ontvang 120 mense in die oppersaal die Heilige Gees, die krag van God in hulle lewe.  Dit het die wêreld geskud!  Ek moet terugkom daarna toe.  Ons moet dit verstaan en die HERE sal vir ons dieselfde krag gee, ons sal dieselfde werk doen.

 

Amen!

 

 


Deel 2

Kruis Die Weg Van Die.

 

Verwerking van transkripsie gemaak, kasset nr. B315A [12:4.1981]

 

Ons lees met mekaar saam uit die HERE se Wonderlike woord.

Matthéüs 20:17-28;

17        EN toe Jesus opgaan na Jerusalem, het Hy die twaalf dissipels op die pad alleen geneem en vir hulle gesê:

18        Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en skrifgeleerdes; en hulle sal Hom tot die dood veroordeel

19        en Hom oorlewer aan die heidene om Hom te bespot en te gésel en te kruisig; en op die derde dag sal Hy opstaan.

20        Toe kom die moeder van die seuns van Sebedéüs met haar seuns na Hom en buig voor Hom neer om iets van Hom te vra.

21        En Hy sê vir haar:  Wat wil jy hê? Sy antwoord Hom: Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter - en een aan u linkerhand.

22        Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word? Hulle sê vir Hom: Ons kan. 

23        En Hy sê vir hulle: Dis waar, my beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julIe gedoop word; maar om te sit aan my regter - en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is.

24        En toe die tien dit hoor, was hulle verontwaardig oor die twee broers.

25        Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: JulIe weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen;

26        maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julIe groot wil word, moet julIe dienaar wees.

27        En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees;

28        net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.

 

Mag die HERE sy woord aan ons harte seën. 

Ek lees weer vers 28;

Net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.


Geliefdes, hierdie besonderse boodskap wat ek vanmôre met u wil deel wat diep tot my eie hart gepraat het, kan ek vanmôre die opskrif gee:-

“Die weg van die kruis”. 

Daar is ‘n ou lied wat ons in ons boekie het wat ons moontlik netnou die geleentheid sal kry om saam te sing, die ou lied sê:

“Die weg van die kruis lei na huis”.  (The way of the cross leads home).

Ons wil ‘n bietjie kyk wat is die weg van die kruis.

Die Christelike Kerk, geskiedkundig gesproke, is vanmôre op pad na die kruis.  Oor ‘n paar dae, naamlik Goeie Vrydag, dan gaan die Christelike Kerk hulle harte verenig en hulle gedagte, aan daardie dag toe die Here Jesus aan die kruis van Gólgota gehang het. 

In die geskiedenis was Jesus teen hierdie tyd alreeds op pad daarheen.  Sy gesig was alreeds soos ‘n keisteen gerig om daarheen te gaan.  Ons as gelowiges stap met Hom saam vanmôre.  Maar ek wil vir u die vrae vra en ek wil u graag help om dit vanmôre te beantwoord.

1) Wat gaan u by die kruis kry?

2) Wat gaan u doen by die kruis?

3) Wat is u gedagte met die oog op:- “oor ‘n paar dae gaan staan ek aan die voet van die kruis”?  

4) Wat verwag u by die kruis?

Daarom wil ek met u baie vér teruggaan.  Ek wil net met u vir ‘n oomblik teruggaan na die begin van die geskiedenis van die mens, na Adam self.   Ek wil hê u moet daaraan dink.  Dit was vir my ‘n nuwe openbaring, ‘n nuwe insig. Tog is dit met al hierdie nuwe dinge so eenvoudig dat u vir uself sal sê, hoekom het ek nog nooit van te vore self daaraan gedink nie? 

Was Adam werklik volmaak?  As daar nooit sonde gekom het nie, sou God vir Adam net so laat bly het?  Of was daar iets wat in Adam se lewe kort gekom het?  Daarom wil ek vir u sê en ek wil dit konstateer: daar was iets wat in Adam se lewe kort gekom het, al het Adam nooit gesondig nie.  Dan was daar iets in Adam se lewe wat sou moes gebeur. 

Hoe God dit sou doen of hoe God dit sou regkry dit weet ek nie.  Want God is alwys en almagtig en ek weet nie hoe God dit sou doen nie.  Maar ek wil vanmôre vir u wys hoe God dit met ons gedoen het.  Dit wat Hy vir Adam sou gedoen het as Adam nie gesondig het nie.

Maar laat ek eers begin deur hierdie baie bekende illustrasie te gebruik wat die meeste van u in hierdie gemeente ken.  Ek vra dus u geduld as ek dit net weer herhaal vir diegene wat dit nog nie van te vore gehoor het nie.  Die illustrasie van hoe God sy liefde werklik aan die mens openbaar, hoe kan God sy liefde werklik aan die mens demonstreer?  Hierdie verhaal word vertel deur verskillende predikers en ook gebruik (as demonstrasie) en wat by sommige van julle goed bekend is.

Dit is van die ou seuntjie wat vir hom ‘n pragtige bootjie gemaak het.  Baie tyd en moeite en aandag gegee het om die bootjie pragtig te maak, mooi uit te sny met sy mes.  Pragtige mas pale te maak, seiltjies aan te sit.  Werklikwaar ‘n stukkie kunswerk. 

Maar dit was nie net sommer ‘n ou bootjie vir ‘n ornament nie.  Hy het die bootjie gemaak sodat die bootjie werklik met die wind op die meer kon vaar.  Die groot dag het gekom na baie harde en toegewyde werk, dat die bootjie gereed was. 

Hy gaan met groot opgewondenheid en bonsende hart met die bootjie om hom te loods, met sy eerste vaart te laat gaan.  Die windjie het ook saggies gewaai.  Dalk ook so ‘n pragtige dag soos vanmôre waarop u en ek in hierdie kerk sit.  Die lieflike sonskyn daarbuite, die bome rondom die meer.  Die blomme en die voëltjies wat daar sing.  Wat ‘n lieflike dag en geleentheid, ‘n hele toneel in die agtergrond om sy lieflings bootjie te laat vaar.  Net toe hy hom in die water sit, toe kom daar ‘n frats storm en hy gryp daardie bootjie en toe die seuntjie tot bedaring kom en die storm is verby, is daardie bootjie net weg.  Dit het sy hart gebreek.  Hy het gesoek en gesoek en gehuil maar sy bootjie kon hy nooit weer kry nie. 

Na verloop van tyd toe die hartseer effens bedaar het toe loop hy in die dorp by ‘n winkel verby wat allerhande besonderse dinge verkoop.  Hy loop by die eerste venster verby en iets vang sy oog.  Hy kyk weer en hy staan stil en draai om en sê dit kan nie wees nie.  Maar dit kan ook nie anders nie, dit moet my bootjie wees.  Hy gaan druk sy neus naderhand teen daardie ruit en hy bekyk daardie bootjie tot in die fynste besonderheid.  Hy weet presies waar hy sekere dingetjies ingekerf het, hoe hy dit gemaak het, ja, hoe onmoontlik dit ook al lyk, dit is my bootjie daardie. 

Hoe hy daar gekom het weet hy nie.  Maar hy gaan die winkel in en vra, meneer is daardie bootjie te koop? Hy sê:”ja ou seun, die bootjie is te koop en die prys is soveel”.  ‘n Baie hoë prys vir so ‘n klein seuntjie.  Maar hy sê: “Oom as dit moontlik is sal u hom ‘n rukkie vir my hou”?  Die eienaar sê; “Ja, ek sal dit vir ‘n rukkie vir jou hou”.  Hy het terug gegaan en sy hande deurgewerk, sy voete deurgeloop, boodskappe gedoen, in tuine gaan werk, mense se motorkarre vir hulle gewas. 

Hy het alles gedoen, stukkies gewys, sent gewys, totdat hy die geld bymekaar gemaak het.  Die groot dag het gekom wat hy die volle bedrag in sy sak gehad het.  Hy hardloop met kloppende hart na die winkel toe en dink, sal my bootjie nog daar wees?  Toe hy naderkom sien hy, waarlikwaar, daar staan my bootjie nog in die venster. 

Hy hardloop en plaas die geld op die toonbank en sê: “Oom hier is die geld, kan ek my bootjie kry”?  Die man tel al die sente bymekaar en dit was die regte bedrag.  Hy sê: “Ja ou seun, jy kan jou bootjie kry”.  Hy

gaan haal die bootjie uit en sit dit in die seuntjie se arms, die trane loop oor sy wange en hy loop en sê dankie oom en toe hy buite kom bars hy uit in trane en sê: “My bootjie, my bootjie, met liefde het ek jou gemaak. Met groot sorg het ek jou gemaak, jou mooi gemaak maar ek het jou verloor.  Die wrede ou storm het jou uit my hande geruk, as 't ware, maar met groot moeite en opoffering het ek jou terug gekoop.  Nou bootjie, is jy dubbeld myne.  Jy is dubbeld myne, my bootjie, ek het jou gemaak en ek het jou ook gekoop. Nou is jy dubbeld myne”. 

My broer en suster, dit is maar die verhaal van ‘n ou seuntjie met sy bootjie.  Maar dit is vir my ‘n baie aandoenlike illustrasie van God se liefde.  God het met groot liefde die mens gemaak.  Hy het die hele wêreld voorberei vir die mens.  Die plante, die diere was gemaak vir die mens.

 

Weet u dat die aarde, sover die wetenskaplikes weet, ek hoor dat daar nou sprake is van lewe op ander plekke.  Dit is moontlik maar wetenskaplik bereken is die aarde die enigste plek wat volmaak en perfek die samestelling van sy lug, die hoeveelheid suurstof, stikstof, koolstof ensovoorts, wat die lewe van die mens moontlik maak. 

As u hier na Génesis toe gaan dan sê dit daar dat die HERE selfs die son, maan en sterre gemaak het om lig te wees vir die aarde.  Ja, die HERE het daardie groot hemel liggame gemaak met die doel van hierdie aarde, die plek vir sy mens, vir sy kind, vir sy metgesel. 

 

Met soveel moeite het Hy die mens gemaak en God het skaars die mens laat uitvaar op die oseaan, van ‘n groot oseaan, van ‘n toekoms, pragtige en heerlike beloftes, toe kom die storm van die sonde en hy pluk die mens uit die hand van God en hy is vir God verlore. 

 

Daardie verlore toestand het ‘n prys op hom gehad.  Soos daardie bootjie ‘n prys, ‘n etiket in die winkel gehad het en daardie prys was net een prys en dit was die bloed van God se eie Seun, God se eie Seun, en in die volheid van tyd.  Die tyd wat ons nou gaan begin herdenk, oor Paasnaweek, het God sy Seun, sê God se woord, in die volheid van tyd het Hy sy eie Seun in die gelykenis van ‘n mens gestuur om vir ons te kom sterwe.  Om daardie prys te betaal.  Sodat die wat gered is, in die eeue wat voorlê, God se liefde sal verstaan. 

 

Hoe sou Adam God se liefde verstaan het, as daar nie ‘n Gólgota was nie?  Hoe sal ons God se liefde verstaan as ek nie waarlik kan sê, ek sien my in my sonde, nie.  Ek sien my in my vervalle toestand, nie net as een op pad hel toe nie maar as een wat my Vader se hart gebreek het.   My Vader se hart, seer gemaak het en tog was sy liefde vir my so groot dat Hy bereid was om die prys van sy Seun te betaal.  Om my aan sy bors te kan druk en sê: “My seun, My dogter, jy is dubbeld myne.  Ek het jou gemaak, niemand anders het jou gemaak nie.  Ek het jou gemaak met groot liefde.  Ek het jou terug gekoop met My kosbare bloed, jy is dubbeld myne. Sodat in die eeue wat kom, ek my Vader se liefde nie net sal verstaan nie, maar kan geniet.  Al die openbaringe wat nog daar vir my voorlê.  Ja, so het ons dubbeld God s’n geword.  Is dit al?  Nee, daar is groter heerlikhede as dit en dit is wat ek vanoggend met u wil deel. 

 

Adam. 

As Adam nie gesondig het nie, is dit nie net die waaragtige liefde van God wat Adam nooit sou geken het nie.  Adam sou dit nie kon verstaan het nie.  Maar ek wil vir u ‘n ander iets sê wat Adam ook nie sou geken het nie.  Dit is; Adam kon nooit, as daar nie ‘n kruis was nie, kon Adam ook nooit die weg van die kruis verstaan nie.

Ek wil vanmôre die weg van die kruis van naderby beskryf en wil weer ‘n saak beklemtoon waaroor ek baie praat in hierdie gemeente en wat u waarlik oor moet bid dat God ons dit dieper en heerliker sal laat verstaan. 

Dit is:

Wat is die hoofdoel van my lewe?

Waarom is u ‘n mens? 

Waarom is u gebore?

Waarom is u op hierdie aarde?

Wat is die doel van u lewe?

 

Ek is seker daarvan elkeen het dit al gevra.  Ek dank die HERE, weet u dat ‘n mens hierdie vrae begin vra, terwyl jy baie jonk is.  Ek vra elke jongmens en kind in hierdie diens, u hoef nie hardop te antwoord nie, ek sê netso, sodat u dit in u hart kan sê.  Dit is die waarheid wat daar gesê word. 

Jy is sommer jonk, dan begin jy al vra hoekom is ek hier? Waarom is ek ‘n mens veral partykeer as dinge nie lekker gaan met jou nie.  Waarom is ons hier?  Ek wil vanmôre vir u dit sê, wat soos ek sê, ek al baie beklemtoon het. 

 

Ek is nie hier op aarde net om gered te word en hemel toe te gaan nie. 

Ek is nie hier op aarde net ter wille van my eie saligheid nie. 

Ek is hier op aarde ter wille van die eer en wil van God. 

 

Wat is daardie wil van God in my lewe? 

Is dit net ‘n kwessie van om die hel vry te spring en om hemel toe te gaan? 

Of is daar ‘n dieper doel? 

 

In die proses om dit vir u te antwoord laat ek vir u ‘n definisie gee van volwassenheid.  Want dit is volwassenheid waartoe ons moet kom om dit beter te kan verstaan.  Wat is volwassenheid?  Ons weet goed as jy die dag ‘n groot mens is, dan word jy ‘n volwassene genoem. 

Dít is vir kinders, dát is vir volwassenes. Dít is vir mans en dít is vir vrouens.  Die klassifikasie in die lewe.  Baie keer het ‘n kind al gesê, ai, ek wens ek is al ‘n volwassene sodat ek ook daardie voorregte en dit en dat kan hê. 

Wat is ‘n volwassene? 

Seker baie definisies.  Maar die beste definisie waarvan ek al gehoor het, wat by my ‘n inslag gevind het is; jy word ‘n volwassene wanneer jy oorgaan van die stadium van ‘n verbruiker na ‘n voorsiener. 

Laat ek dit vir u duidelik maak:

Hier is ‘n babatjie.  Die babatjie is definitief nie ‘n volwassene nie.  Daardie babatjie is net ‘n verbruiker.  Dit is kos, melk, doekies, dit is komberse, dit is regstaan van pa en ma.  Alles moet vir daardie babatjie gedoen word.  Hy is ‘n verbruiker.  Maar nou word daardie baba groot.  Daardie baba word naderhand ‘n mooi ou seuntjie of dogtertjie.  As pa en ma daardie baba reg groot maak soos ‘n mens dit behoort te doen, dan sal jy vir daardie baba so vroeg as moontlik in die lewe, sy eie werkies in die huis begin gee.  Instede van alles net vir hulle te doen, begin hulle naderhand self dingetjies te doen.  Dit is die proses van groot word.  Instede daarvan om alles voor gedoen te word, naderhand dinge vir pappa en mamma te doen.  Naderhand is daardie baba self ‘n groot mens en dan maak hy en sy weer babas groot.  Dan het hy tot volwassenheid gekom. 

 

So ook in die kerk, so ook in die gemeente.  Jy kom as ‘n sondaar, jy kom as ‘n pasgebore geestelike baba, jy het nog baie probleme en behoeftes, ag bid vir my vir dit en dat.  Ag hier neem ek aanstoot, daar trap een op my tone.  Maar jy groei en naderhand, instede daarvan om gedurig voor gebid te word, begin jy naderhand vir ander te bid. 

Instede daarvan om gedurig aanstoot te neem hier en daar, begin jy naderhand te sê; prys die HERE.  Vergewe hom as hy op my toon getrap het vir sy lompheid, vir sy onverskilligheid, en instede daarvan dat jy altyd tevrede gestel moet word.  Die Pastoor moet kom, of die ouderling of ‘n volwasse broer / suster, om te kom troos en om vrede te maak, te verduidelik.  Nou gaan jy en jy is een van die vredemakers, een van die bidders, van die regstellers en verduidelikers in die gemeente.  Jy het nou gegaan na volwassenheid. 

 

U sien, die HERE se wet en reël is dat die koringkorrel moet in die grond val en sterwe om eers weer te kan vrugte dra.  In die proses na volwassenheid, na groot word en iets vir God beteken is wanneer ek nou werklikwaar my voet op die weg van die kruis begin sit.

Wat het Jesus op Gólgota gaan doen?

Wat gaan ons Goeie Vrydag sien?

Ons gaan sien hoe Hy sy lewe afgelê het vir ons sondes en so aan.  Hy het dié koringkorrel geword om in die grond te val.  Hy is die ene wat gesterf het en sy siel uitgestort het tot die dood toe en soos Jesaja 53 sê; wat ‘n nakroos sal sien.

 

As Jesus nie gesterf het aan die kruis nie sou Hy nooit ‘n nakroos gesien het nie.  Die koringkorrel moes in die grond val.  So moet ek ook, as ek my voet op die weg van die kruis sit, bereid wees om te sterwe.  Nie ‘n martelaars dood nie, dit is ook moontlik.  (Ons sal vanaand daaroor praat as die HERE ons spaar).  Maar die sterwe van die “ek”, van “my” belange.  Die pappa en mamma wat volwasse geword het en self kinders weer in hul onvolwassenheid grootmaak, hoe weet ons dit nie!  Hoe baie keer moet jy jou eie gerief, gemak en belange laat sterwe terwille van om die baba groot te maak. 

 

(1) Die weg van die kruis.

Die weg van die kruis is die weg van sterwe, vir “jouself”, vir jou “ek” en vir jou “eie” belange.  Die koringkorrel moet in die grond val en wat meer is, ‘n dooie koringkorrel, as hy in die grond val, beteken hy niks.  Dit moet ‘n lewendige koringkorrel wees wat in die grond val en sterwe om weer ‘n ander koringkorrel voort te bring. 

Ek het een aand, ‘n klompie maande gelede, dit sommer net hier genoem, dit was nie ‘n boodskap nie en vir my ‘n baie goeie illustrasie van, die bereidheid om te sterwe.  Die bereidheid om die “ek” en jou “wil” te laat sterwe is een van die grootste bestanddele. 

Een van die beste illustrasies is die siekte - kanker.  Ons weet in ons menslike liggaam, is elkeen van ons gedurig besig om te sterf.  Het u dit geweet?  Jou selle is gedurig besig om dood te gaan in jou liggaam.  Dit moet gedurig vervang word met nuwe selle.  Die slim mense sê vir ons die mens se liggaamselle word heeltemal vervang elke 7de jaar.  Dus gedurig ‘n proses van sterwe en vernuwe en wanneer kanker kom, is wanneer ‘n sel weier om te sterwe en lewendig bly en begin groei, dit is kanker.  Die kanker wil nie doodgaan nie, hou aan met lewe en groei.  ‘n Ietwat grusame illustrasie maar nietemin ‘n baie begrypbare en verstaanbare een. 

Ons kyk na die Here Jesus, het Hy nodig gehad om vir sonde te sterwe?  Het Hy nodig gehad dat daar iets in sy lewe vervolmaak moes word?  Nou luister mooi, Hy het nie nodig gehad om vir sy eie sonde te sterwe nie maar Hy het ook nodig gehad dat iets in sy lewe vervolmaak moes word.  Weet u wat was dit?

Dit was die weg van die kruis. 

Selfs Jesus moes leer deur wat Hy gely het om gehoorsaam te wees aan die wil van die Vader.  Dit en saam met die ander wat ek vir u wil wys, is die hart van die Christelike geloof en wat so min van ons werklik verstaan.  Daarom het Jesus na ‘n groot stryd, het Hy uiteindelik op die plek in Getsémané gekom en gesê: “Vader as dit moontlik is, laat hierdie beker by my verbygaan nogtans, nie My wil nie, maar U wil geskied”.  Ons weet wat daardie beker is, dat Jesus moes sonde word, met u sonde en met my sonde.  Hy moes nie net die sonde toegereken word nie, Hy moes werklik sonde word. 

Hy moes daardie dief, hoereerder, leuenaar, noem dit wat jy wil, moes Hy werklik word voor God en voor Satan.  Kan u Hom kwalik neem as Hy terug gedeins het en gesê het; “Vader, nee, daardie beker wil Ek nie drink nie”.  Maar Vader sê: “My Seun, dit is die enigste weg om my ‘bootjie’ terug te koop, Jy sal dit moet doen!” 

Toe sê Jesus: “Vader, as dit die enigste weg is, laat U wil geskied!” 

Dan doen Ek dit. 

Dan onderwerp Ek myself aan U wil! 

Dit is die weg van die kruis! 

 

Ek praat nog nie oor die prys van die kruis nie ek praat oor die weg van die kruis. 

U moet onthou, dat Hy juis geworstel het daar in die tuin van Getsémané, voordat Hy sonde geword het, voordat Hy die beker gedrink het.

U moet onthou, Jesus het ook sy “eie” wil gehad, anders kon Hy nie ‘n mens wees soos u en ek nie.  Hy moes sy “wil” hê, omdat u en ek ‘n “wil” het, en Hy dus ons volmaakte plaasvervanger moes wees.  Ek moet by Hom leer en ek moet by Hom die krag ontvang om ook hierdie “wil” van my te vat en dit vir die Vader te gee. 

Ek sê vir U, dit is ons probleem in ons lewens, ek sê nie daar is nie die wat dit bereik het nie.  Dit is God se roeping vir ons.  Maar hier lê ons probleem, ek wil nie my “wil” vir die Vader gee nie.  Dit is die weg van die kruis.  Ons sal nog ‘n bietjie verder daarna kyk. 

Aan die kruis, en ons is op pad na die kruis in die geskiedenis.  Oor ‘n paar dae is dit Goeie Vrydag en dan staan ons by die kruis. 

Wat het by die kruis gebeur? 

Daar aan die kruis, nadat Jesus die beker gedrink het, gekruisig is, het Jesus die volle prys betaal vir Israel se sonde, vir u en my sonde.  Ons verstaan dit nog nie mooi nie en daarom moet God vir u genade gee om te kan begryp.  Hier lê die hart en ‘n siel vir u hele lewe; aan die kruis van Gólgota en het Jesus klaar betaal vir u sondes. 

 

U hoef nie te stry om u sondes te oorwin nie.  Dit is die fout wat so baie van ons maak.  O, ek moet myself maar weer kruisig om van hierdie sonde, ou gewoonte of daardie slegte ding in my lewe ontslae te raak.  Dit werk nie so nie.  Dit is daarom wat u nooit oorwinning kry nie.  U sondes is aan die kruis vasgenael, u moet dit beskou en u moet dit reken as ‘n afgehandelde transaksie. 

 

Elke keer as die sonde in die vlees, waar ookal, na jou toe kom, dan moet jy vir hom sê, afgesien van gevoelens, (Dit het niks met gevoelens te doen nie), dit is ‘n afgehandelde transaksie of u dit glo of nie glo nie, of tot bekering kom of nie tot bekering kom nie, u sonde het Jesus op Hom geneem en daarmee is Hy aan die kruis genael.  Dit is betaal, dit is afgehandel.  Of u dit nou voel of nie voel nie, Jesus het klaar daarmee weggedoen.  Dit hang net af of u dit aanvaar of nie aanvaar nie.  U kan dit nie deur ‘n kruisiging, deur ‘n worsteling, (luister), of deur gebed of trane, u kan dit, deur niks, niks, iets aan daardie sonde doen nie. 

 

Jesus het dit gedrink toe Hy die beker gedrink het en aan die kruis gaan hang het.  Daarom, terwyl ek met u praat oor die “weg van die kruis” bring ek nou my tweede gedagte wat u mooi na moet luister.

 

(2) Die “werk” van die kruis.

Die weg van die kruis, en die werk van die kruis. 

a) Die werk van die kruis is afgehandel.  U moet daarop reken as ‘n afgehandelde transaksie. 

b) Die weg van die kruis is ‘n daaglikse wandel van kruisiging met Jesus. 

 

Nie ‘n kruisiging vir sonde nie, maar ‘n kruisiging van “self”, ‘n kruisiging van my “ek” en my “wil”. 

‘n Kruisiging wat loop in die spore van Hom wat driekeer moes geworstel het, maar toe gesê het: “Ja Vader, as dit die weg is, nie my wil nie, maar U wil geskied”.

Die pad wat ek dan moet loop, dit wat dan in my lewe gelê is, as dit die wil van my Vader is, dan moet ek sê: “Goed Vader, nie my wil nie maar U wil geskied”.

Die oomblik wat ek dan myself verloor, dan vind ek myself. 

Die oomblik wat ek myself weggee, op daardie oomblik gee Vader myself aan myself terug en word ek werklik mens.  Word ek werklik wat God met Adam bedoel het en wat Adam self nog sou moes word. 

 

Die werk van die kruis is volbring.

Op die weg van die kruis, sterf “ek” elke dag.

Daar is ‘n groot verskil, kom ons gaan verder.

 

Die werk van die kruis is wat die mens ontvang. 

As ek by die kruis gaan kniel kyk ek op en sê:

“HERE, U het vir my gesterf,

U het my sonde betaal,

U het my skuld op U geneem. 

HERE, U het my gereinig en ek kan hemel toe gaan. 

HERE, ek kan voor U gaan staan en eendag wanneer die boeke gelees word, gewas in die bloed van die Lam, kan ek sê; ek het dit ontvang”, dit is die werk van die kruis! 

Maar die weg van die kruis is nie dít wat ek van God ontvang nie maar dit is wat ek vir God gee! 

Wanneer ek nou op die weg van die kruis kom, dan kom ek en:

ek gee vir God my lewe,

ek gee vir God my wil,

ek gee vir God my wense,

ek gee vir God my begeertes,

ek gee dit aan Hom, 

ek kom nou om Hom te verheerlik, 

ek kom nou om Hom te dien,

ek kom nou om Sy medewerker op aarde te wees.

Daarvan is die hoofbestanddeel, die weg van die kruis.  Ek moet myself elke dag kruisig om God se wil te kan doen.  Ek wil partykeer dit doen maar dit wat God my voor geroep het, staan dwars in die pad van God se wil met my.  Dan sê ek: “HERE, ek gee dit oor, U wil hê ek moet daardie kant toe gaan, dan maak ek hierdie “wil”, hierdie “wense” en “verlange” dood, dan kruisig ek hom en ek gaan daardie pad toe, dit is die weg van die kruis. 

 

O, my broer en suster, moenie nou sê; “dit is te swaar nie”. Hy wat roep is getrou.  Hy sal dit doen!  As u net gewillig is, om hierdie pad te gaan, as u nie gewillig is nie, en u het by die “werk” van die kruis gekom, sal u hemel toe gaan.  God is getrou, Hy het jou sonde vergewe, as jy daarop reken.  Maar jy sal vir God nie veel beteken op hierdie aarde nie!

 

Die werk van die kruis is:

wat u ontvang aan die voet van die kruis. 

Die weg van die kruis is:

wat God ontvang deur sy seuns en dogters!

 

Luister, dit is die hoofweg van die lewe.  Die ander is die sypaadjies wat lei na die hoofweg om te gaan na die hoofstad.  Jy ry miskien nou met ‘n ou grondpad, of jy ry met ‘n kronkel teerpad, daar is baie verkeer, daar is baie bulte, allerhande dinge.  Jy sê, ai, net totdat ek op die hoofweg kom! 

Prys die HERE!

Die hoofweg is die weg van die kruis. 

Geen wonder dan, dit is een van die dinge wat die skrywer aan die Hebreërs bedoel. 

Hebreërs 6:1-2;

1          Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God,

2          van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel!

Is dit nie magtige dinge nie! 

Dit is maar die eerste beginsels. 

Dit is nog; die “werk” van die kruis. 

Dit is nog nie; die “weg” van die kruis nie. 

Die weg van die kruis is nou die volmaaktheid en dan gaan hy daarmee verder aan as u die brief aan die Hebreërs verder bestudeer. 

Lees asseblief 2 Korinthiërs 11 by uself.

Laat ons net kyk na:

2 Korinthiërs 4:11-12;

11         Want altyd word ons wat lewe, oorgelewer in die dood om Jesus wil, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word.

12         So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle. 

Wat is dit?

Dit is nie die doodmaak van die vlees soos ons altyd gedink het nie.  Nee, dit is werklik die dood van Jesus, soos Jesus gesterf het deur te sê: “nie My wil nie, U wil”. 

Wanneer ek dan kom en daardie dood van Jesus in my laat werk, dan werk dit tot voordeel van die wat ek moet bedien, as Christen.  Sodat hulle die dood van Jesus Christus, in my kan sien en hulle sal dit baie gou kan sien in ons lewens, wanneer ek my begeertes, my wil, my voordeel, my profyt, prysgee terwille vir die werk van God en die opbouing van die koninkryk van God op die aarde, dan sal die wêreld sien ek sterf, Jesus sterf, maar die in wie se midde ek sterf, begin lewe kry, deur die lewe van Jesus in my! 

Prys die HERE!

Kom ons kyk na:

Romeine 8:36;

(‘n Baie heerlike en welbekende vers, maar wat het Paulus bedoel?)

Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape.

Dit is waar, die Christene in daardie tyd het gesterwe, daar is ook baie Christene wat vandag ‘n martelaars dood sterf.  Ons word gereken as slagskape.  Dit beteken nie dat ons kop afgesny moet word en doodgeskiet word met die pistool voor ons kop nie.  Nee, ons word gereken as slagskape, om U ontwil, word ons die hele dag dood gemaak. 

Ék moet die hele dag doodgemaak word. 

My “wil” en my “begeertes” moet nie bestaan nie. 

Sodat Sy “wil” in my “wil” volbring kan word. 

Daarvoor moet “ek” die hele dag doodgemaak word. 

U moet vanoggend eerlik wees, ek is eerlik.  Baiekeer irriteer mense my, dit is seker nog ‘n stukkie ou ding wat nog nie heeltemal in my dood is nie.  Baiekeer raak ek ongeduldig met mense.  Baiekeer wil ek graag iets so hê, dit kan nie anders nie want daar is mense en begeertes en “wille” in my pad.  Dan moet ek dit (my wil en begeertes) doodmaak.  Ek moet dit doodmaak en nie my wil laat geskied nie!  Sodat God se wil in my lewe kan geskied!  Dit is nie ‘n doodmaak van sonde nie, dis die doodmaak van my wil sodat God se wil kan geskied.  Dit is die weg van die kruis, dit is nie die werk van die kruis nie.   Prys die HERE!

 

My broer en suster, dus, wat ‘n voorreg het ons nie, om sodoende as't ware deurskynende kanale vir Jesus te wees.  Om Jesus se dood deur ons te openbaar sodat die wêreld in ons kan sien hoe Jesus gesterf het. 

Prys die HERE!

Nou, die meeste van ons is nie gereed vir hierdie soort van lewe nie.  Dit is daarom dat die Christelike geloof en weg so stilstaan.  Ons wil nog ons eie wil en ons eie sin hê.  Geliefdes, ons sê, en luister nou mooi, hoe mooi klink dit, ons sê nee, ek wil nie dood in my lewe hê nie, ek wil blydskap hê, ek wil die oorvloedige lewe in my hê. 

Is dit nie mooi nie? Ja, dit is mooi en ook nie mooi nie.  Sekerlik moet ek my verbly in my verlossing.  Maar is dit al? Nee, nou moet ek na volwassenheid gaan.  Nou moet ek my verbly om te sterwe terwille van Hom.  Dit moet my groter blydskap wees.  Dit is hierdie dood wat ek nie wil hê nie.  O ja, ek sê nee, ek sal myself, my hande en voete deurwerk vir die HERE as hulle ‘n beroep doen op my. 

 

Of dit Paaskonferensie is of wat ook al, ek het die Here Jesus lief, ek het sy werk lief, ek het sy saak lief, ek sal werk vir die HERE.  Maar as u mooi daarna kyk, hoe moeg u ookal is, is omdat dit vir u lekker is.  Dit is lekker om vir die HERE te werk, dit is ‘n plesier om vir die HERE te werk.  Nou moet u daarby verbygaan, nou moet u dié dinge ook doen wat nie vir u lekker is om te doen nie, dit is die weg van die kruis!  Dit is wanneer u werklik moet offer.  Dit is die rede vir ons leë lewens. 

 

Ons sê maar ons het onsself aan die HERE oorgegee, ek het al hierdie dinge gedoen en ek gaan gereeld kerk toe en ek dank die HERE vir die kruis, maar hoekom kom daar iets kort?  Hoekom is my lewe nog so leeg? Hoekom is daar so ‘n ontevredenheid in my?.  Baie keer hap ons soms na mekaar in ons ontevredenheid.  Want ons is onvergenoegd, ons is onvoldoende. 

Kyk wat sê die HERE in:

Matthéüs 10:38-39; 

38         En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig             nie. 

39         Wie sy lewe (siel) vind, sal dit verloor; en wie sy lewe (siel) verloor om My ontwil, sal dit vind.

Kyk weer na vers 38, “En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie”. 

 

Nou sê ek, daar is ‘n siekte, party sê die siekte is hulle kruis, party sê hierdie ding is sy kruis of dit of dat, ek sal maar my kruis dra.  Nee, dit is glad nie wat dit beteken nie. 

Dit is daardie kruis wat jy gewilliglik opneem terwille van die Here Jesus.  Daardie eenkant toe skuif van jou wil en jou verlange soos Jesus, soos ons nou-nou gaan gedenk.

 

Sy Wil, Sy Reinheid, Ek die reine Seun van God moet nou ‘n hoereerder wees, ‘n moordenaar wees, vuil moet Ek nou word.  Nee HERE, My wil stem nie daarmee saam nie.  Vader sê: “ja my Seun, dit is waar, dit is nie jou wil nie, jy is rein, maar dit is My wil, Vader se wil”. 

 

Amen!

 

 

 

 


Deel 3

Die Kruis in Drie Dimensies

Verwerking van transkripsie gemaak, kasset nr. B315B [12.4.1981]

 

Ons lees saam uit 1 Korinthiërs 1:17-31;

Die opskrif van hierdie teks is:

Die Wysheid van God en die wysheid van die wêreld. 

17         WANT Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie.

18         Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;

19         want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak.

20         Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?

21         Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red;

22         want die Jode vra ‘n teken en die Grieke soek wysheid,

23         maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke;

24         maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.

25         Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.

26         Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie;

27         maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam;

28         en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak,

29         sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.

30         Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.

31         Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.

 

Ons lees tot daar, mag die HERE sy woord seën. 

Geliefdes, ons wil vanaand in die besonder ons aandag by die 18de vers bepaal.  Ek sal dit weer vir u lees. 

Korinthiërs 1:18;

Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;

Prys die HERE!

Vir ons wat gered word is dit die krag van God.  Ek wil vanaand met u praat oor: “Die kruis in drie dimensies”. 

In baie opsigte dink ek het mense al gewonder oor die krag wat daar was in daardie eerste klompie dissipels na Pinkster.  Dat ‘n klein handjievol manne en vroue, niks gereken by die wêreld, geen geleerdheid, geen invloed, geen geld nie, geen aansien nie.  Dat hulle in so ‘n kort tydjie daardie wêreld oorrompel het. 

Waar het hulle krag gelê?  Wat was daardie krag wat in daardie klompie mense was?  Ek wil vir u sê, die uitdaging vir u en vir my in hierdie tyd is dat ons daardie krag weer sal moet terug kry.  Ek glo dat daardie krag lê in die krag van die kruis!  Die Christen wêreld is aan die optrek en aan die opmars na Gólgota in die geskiedenis. 

Almal maak klaar vir die Paasnaweek.  Almal maak klaar vir Goeie Vrydag, die Opstanding Sondag.  Daar sal met groot sentiment en met groot bewoënheid weer gestaan word aan die voet van die kruis.  O, ons sal die offer en die lyde van die Here Jesus bewonder en daardeur opnuut aangegryp word. 

Ek vind geen fout daarmee nie.  Maar ons lewe in ‘n wêreld, ons het te doen met ‘n vyand wat as ons sê uitgeslape is, dan is dit maar ‘n baie swak term.  Maar sal u verstaan wat ek bedoel.  Ek het al so baie in hierdie ou plekkie vir u gewaarsku en ek het vir u die beeld gebruik van die pendulum van ‘n horlosie en ek het vir u gesê, as die vyand jou nie op hierdie swaai kan vang nie, moet jy versigtig wees, dan vang hy jou op daardie swaai; hy jou deur werke wil verlei, soos dit was voor die hervorming, of alles is genade.   

O, dat ek deur my werke die saligheid kan koop en dat ‘n Martin Luther dit ingesien het, en toe sy rug op die werke gedraai het en gesien het dit is genade, toe swaai hy weer na genade en toe vergeet hy weer die werke! 

Die twee kan jy nie van mekaar skei nie. 

Netso ook aan die kruis van Gólgota.  Ons het in vanoggend se boodskap gesien daar is: die werk van die kruis en daar is die weg van die kruis.  Ons het vir u gewys dat die werk van die kruis is waar die Here Jesus ons sonde op Hom geneem het.  Dat die kruis van Gólgota, sover dit ons sonde is, as ons dit bely en glo, is dit ‘n afgehandelde transaksie.

Die gelowige kan terug kyk en sê:

My sonde is vergewe, 

ek is met God versoen,

ek is meer as ‘n oorwinnaar,

ek het verlossing deur sy Bloed. 

Prys die HERE!

Die HERE het vir my die pad na die hemel oopgemaak.  Maar die van u wat hierin onderrig is, het al klaar gesien hoe baie van die “my” daarin is.  My sonde is vergewe, ek is op pad hemel toe, ek is verlos, dit is alles waar.  Maar daarmee is ons ook tot ‘n mate gevang want dit is nie die hoofplan van God nie.  Ek is alleenlik verlos nie om hemel toe te gaan nie maar om die beeld van die Here Jesus in my lewe te laat deurskyn.  Sodat die wêreld vir Jesus kan leer ken in my lewe, as ek ‘n kind van God is. 

 

Daarom wil ons saam met u kyk na die kruis in drie dimensies:-

1) Ek wil saam met u kyk na die kruis as ‘n beginsel.

2) Ek wil saam met u kyk na die kruis as ‘n plek.

3) Ek wil saam met u kyk na die kruis as ‘n krag. 

 

Ek wil hê ons moet kyk na die kruis as:

‘n uitdrukking,

as ‘n monument,

as ‘n gestalte van ‘n Goddelike lewenswyse. 

Daarom sê die Apostel Paulus aan hierdie selfde Korinthiërs verderaan: 

“As iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel, die ou dinge het verby gegaan, alles het nuut geword”. 

Die kruis is ‘n lewenswyse. 

(1) As ek by die kruis gekom het as ‘n beginsel, dan sal daardie beginsel van die kruis, my lewe oorheers en ons gaan kyk na daardie beginsel. 

(2) Ons gaan ook kyk na die kruis as ‘n plek. 

O, wat ‘n wonderlike plek is die kruis. 

Die kruis is ‘n plek waar die Goddelike en die aardse weë met mekaar in botsing gekom het. 

Die kruis is ‘n plek van botsing. 

Dit is ‘n plek van stryd.

Dit is ‘n plek van afrekening. 

Dit is miskien die heiligste plek wat daar ooit gewees het. 

Ons moet gaan kyk na daardie plek!

(3) Dan gaan ons kyk na die kruis as ‘n krag.  Die kruis is ‘n krag en daardie woord in Grieks is “dunamis”, is ontploffings krag.  As daardie kruis die regte plek in my lewe het, is dit die krag van God in my lewe en dit is daardie krag wat in die eerste dissipels gewerk het.  Dit is die enigste krag wat die wêreld vir God sal oorwin. 

 

3.1 Die Kruis as Beginsel.

Kom laat ons vir u ‘n verhaal vertel: 

Iewers in Amerika, dit het maar nou net so gebeur, (dit kon op ‘n ander plek ook gebeur het).  Dit is die verhaal en dit is waar dit gebeur het.  Twee jong seuns het ‘n passasierstrein onder klippe gesteek.  Hulle was gevang en hulle het voor ‘n regter in ‘n jeughof verskyn. 

Hulle was verskriklik rebels.  Toe die regter met hulle praat en hulle vra of hulle iets te sê het, toe staan die oudste van die twee op en sê: “Ja Edelagbare, ek is net jammer ek het nie nog meer van die vensters stukkend gegooi nie.  Die regter het die hof verdaag en hy het die twee seuns in sy motorkar gelaai en hulle na sy huis toe geneem.  Daar in sy motorhuis het hy die pragtigste stelsels van modeltreintjies gehad.  Enige seun se hartsbegeerte.  Hy neem die twee seuns daarin en hy sê vir hulle, 'come boy's play with these trains”.  Hulle was eers huiwerig maar naderhand begin hulle te speel.  Hy wys hulle hoe die skakelaars en knoppies werk.  Die seuns se ogies het geblink en toe op die regte moment vra hy hulle: “Wil julle graag hierdie treintjies hê?”

Hulle was verbaas, daar was doodse stilte vir ‘n ruk.  Hy sê:”Ja, ek bedoel dit regtig, ek sal hierdie treintjies afbreek en ek sal dit daar in julle ouers se motorhuis gaan monteer.  Ek sal dit daar gaan oprig en instel.  Die oudste seun was die eerste om te breek en hy begin om te huil.  Hy sê: “Ag Edelagbare, na al ons stoutigheid, is dit wat u bereid is om vir ons te doen.  O, ek is so jammer.” Toe val die ander een ook in en sê: “Ag vergewe ons, ons was baie stout gewees”. 

Dié Regter het daardeur die twee seuns na die Here Jesus toe gelei.  Hy het as ‘n geestelike vader vir hulle opgetree en hy het hulle groot gemaak in die HERE.  Weet u wie het daardie verhaal vertel, een van die seuns wat self ‘n Christen en self ‘n Regter geword het. 

 

In hierdie verhaal sien ons klaar die kruis prinsiep in sy drie dimensies.  Ons sien die kruis hier as ‘n beginsel, as ‘n plek en as ‘n krag.  Hier het hierdie twee seuns eintlik in botsing gekom met die gereg.  Daarom was hulle voor die hof gedaag. 

 

Maar toe het die Regter hulle so met liefde behandel, toe kom daardie verskriklike haat, daardie onregverdige haat wat in hierdie kinders was (seker die manier wat hulle groot geword het) toe kom daardie haat in botsing met die liefde van God in hierdie Regter.  Dit word vir hulle nie net ‘n beginsel van die liefde van die HERE wat daar aan hulle gedemonstreer is deur die Regter nie, maar dit word ook vir hulle ‘n plek, ‘n plek van ontmoeting van hulle haat en hulle verset wat in hulle hart was.  ‘n Plek van ontmoeting met die liefde van God in daardie Regter. 

 

As gevolg van daardie liefde, toe word die liefde ‘n krag in hulle lewens.  ‘n Krag tot saligheid.  ‘n Krag wat hulle siele gered het en wat een van hulle, wat dalk ‘n jeugmisdadiger kon word en wie weet waar beland het in die wêreld, word hy nie net ‘n kind van God nie maar hy betree een van die hoogste plekke in die samelewing, naamlik die plek van ‘n Regter. 

 

O, geliefdes, so kan ons sien dat dit is waar die liefde van God die haat en die sonde van die mens ontmoet het, wat wonderlik is en ek wil hê u moet daaraan dink.  Mag God u genade gee en u dit sal aangryp, altyd by die ontmoeting van menslike haat en Goddelike liefde, verskyn daar altyd ‘n kruis.  Altyd ‘n kruis in u eie lewe, waar u in haat, miskien teen ‘n medemens opgetree het, of wat ookal, en daardie medemens kom na u toe, met die liefde van God, sal daar altyd in die middepunt ‘n kruis staan. 

Want daardie een wat u so ontmoet het sal al lankal die weg van die kruis, soos ons dit vanoggend gesien het ontdek het en daardie weg van die kruis bewandel.  Want om daardie haat te ontmoet, sal daardie ene wat die ontmoeting in God waarneem, sal homself lankal moes gekruisig het.  Daar staan altyd ‘n kruis by daardie ontmoetings plek, en so word die kruis ‘n plek.  Maar dit is nog baie meer as dit. 

Hier by die kruis, ons kan dit sien in die verhaal van die seuntjies en die Regter.  Maar, hier by die kruis word die weg van die mens, hierdie weg van net altyd wil kry, net altyd wil hê, word hy ontmasker deur die weg van gee. 

 

Die mens in sy vervalle toestand van sonde:-

Hy wil net altyd hê,

Hy wil net altyd tevrede gestel word. 

Hy wil net altyd sy reg hê. 

Hy wil net altyd sy wil hê. 

Teenoor dit: Is dit God se weg van gee? 

Hierdie twee kom altyd in botsing en daarom word die kruis ‘n plek van stryd tussen die twee. 

Geliefdes, toe die Here Jesus op die toneel verskyn het, toe Hy op pad was na Gólgota het die Duiwel geweet dit is die einde van sy koninkryk.  Die einde van sy koninkryk waar hy die mens in sy gevalle toestand in hierdie weg van selfsug en eie wil gehad het, het hy geweet die Here Jesus het gekom om dit te verbreek. 

Hierdie Jesus wat Homself gegee het om die wil van God te doen.  Hierdie Jesus wat die koning van die heelal is, wat Homself in die posisie van die slaaf en van die dienskneg gestel het.  Die Duiwel het geweet dit is die weg van sy nederlaag. 

 

Daarom het hy die Here Jesus probeer vang met drie dinge in die versoeking. 

1) Hy het vir Hom gesê daar in die woestyn:

“As jy die Seun van God is; sê vir hierdie klippe om te verander in brood”. 

2) Toe neem hy Hom na die tempel en sê:

“As jy die Seun van God is, spring nou af van hierdie tempel want Hy sal sy engele bevel gee om jou op die hande te dra”.

3) Toe wys hy Hom weer al die koninkryke van die wêreld en sê:

“As jy neerval en my aanbid is dit alles joune”.

 

Sonder die kruis natuurlik.  (geen kruisiging)

In al drie hierdie gevalle het die Here Jesus die prinsiep van die kruis gedemonstreer. 

Mag God vir ons genade gee dat ons dit mag sien.

Laat ek vir u wys:

(1) Die klippe wat Hy moes verander in brood: 

Hy was werklik honger, Hy het brood nodig gehad.  Dus kom die Duiwel na Hom en sê, Jy het mos die mag om vir Jouself brood te maak, maak dan vir jou brood!  Maar dit is juis hier waar die prinsiep inkom.  God se weg vir die mens is nie ‘n weg vir homself nie.  Dit is nie in die eerste instansie vir jouself wat jy moet lewe nie.  Dit is juis hierdie “vir myself” lewe, wat die hele wêreld in chaos gedompel het.  Wat hom in die dood gedompel het.  Elkeen wil net vir homself hê. 

Die Duiwel wou Jesus daarmee vang: - - - -

Hy was honger.

Hy het dit fisies nodig gehad.

Hy was magtig. 

Hy was die Seun van God. 

Hy kon die klippe verander het in brood. 

- - - - as ons dit in aardse terme mag sê, Jesus het nie daarvoor geval nie.  Hy sê, nee Satan, dit staan geskrywe, ‘n mens sal van brood alleen nie lewe nie. 

 

Toe sê hy:

(2) Nou kan jy van die tempel afspring.

Met ander woorde: - - - -

Hy het Jesus gedaag.

Hy het Jesus versoek.

Hy het Jesus uitgelok.

- - - - om iets uit Homself te doen.  Dit sou ‘n wonderlike vertoon gewees het, almal sou dit seker kon sien hoe die engele Jesus op die hande sou dra.  O, iets uit Homself.  My broer en suster, dit is die Gods roeping vir die mens, dit is hierdie dinge wat by die kruis mee weggedoen is.  Niks moet ek uit myself doen nie.  Ek moet terug kom in my verhouding met my Vader, dat Hy deur my sal werk. 

 

Verder sê hy:

(3) As jy my nou aanbid, dan gee ek vir U al hierdie koninkryke.

Toe sê die Here Jesus, dit staan geskrywe: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien”.  Hy moet niks vir Homself doen nie. 

Met ander woorde: - - - -

Ek moet niks vir myself doen nie.

Ek moet niks uit myself doen nie. 

Ek moet niks met myself doen nie. 

- - - - hierdie plek van die kosbare en die dierbare ou kruis, dit is waar die Satan ontmasker is.  Waar die Here Jesus die masker afgeruk het en nie vir Homself nie maar vir u en vir my en vir die heerlikheid van die Vader.  As ek by die kruis gekom het, dan moet ek by daardie plek uitkom om waarlik die Gods weg en Gods wil ook in my lewe te kan uitvoer. 

Jesus se weg van gee, by die kruis het Hy die weg van gryp ontmasker. 

Die Here Jesus se weg van afhanklikheid het die mens se weg van selfstandigheid oop en bloot gelê.

 

Dit is altyd ons:

Ek wil, -- ek kan, -- ek is koning, -- ek kan vir myself besluit, -- ek het my eie wil!  

 

Jy gaan nie vir my sê wat om te doen nie, ja ook God!  U gaan nie vir my sê wat om te doen nie.  As ons eerlik is, dan moet ons erken dat die meeste Christene vandag sal God dien, sover dit hulle pas tot op ‘n sekere grens, maar daar anderkant waar dit jou te veel gaan kos, dan sê jy: - “Staan eenkant HERE, my belange kom eerste”. Die kruis word vir ons ‘n plek waar hierdie dinge ontmasker word. 

 

3.2 Die Plek van Die Kruis 

Die Here Jesus het vir 3½ jaar hierdie dinge aan die kaak gestel.  Hy het vir die mense gewys dat dit nie die weg is van God na volmaakte harmonie met die HERE nie.  Maar nou, by hierdie plek van die kruis, lê daar vir u en vir my ‘n keuse.  Jy moet dit of omhels of jy moet dit verwerp.  As jy dit verwerp, moet jy dit nie net verwerp nie, dit moet ook vernietig word want anders kla hy jou gedurig aan. 

Dit is presies wat hulle met Jesus gedoen het.  Hulle het nie net vir Jesus verwerp nie, nee, dit het hulle te veel aangekla.  Hy moes ook uit die weg geruim word.  Dit wil ek nou vir u sê, die man en vrou wat by die plek van die kruis uitgekom het, luister, hy en sy word self ‘n kruis vir ander mense. 

 

Laat ek dit nou vir u mooi so stel.  Ek is nie besig om vir u te preek nie, ek is besig om vir u ‘n heerlike, goddelike waarheid te probeer uitbring.  Ons moet dit nou glad nie verwar met ‘n tipe van kruis wat eintlik al afstootlik geword het in die Christendom nie.  Daar is baie van ons Christene wat onsself ‘n kruis maak vir andere en dan dink ons, ons is die martelare en dan breek ons eintlik die kruis van Jesus af. 

Die kruis wat ek word vir ander, in die regte sin , is dat my lewe wat so oorgegee is aan die HERE, aan onselfsugtigheid, aan ‘n ware liefde, aan ‘n ware oorgawe aan die wil van die Vader, daag die selfsug uit van diegene wat nog nie daar gekom het nie. 

Nou word jy vir daardie een ‘n verleentheid.  Jy word vir daardie een ‘n ontmaskering en hy sê; ek wil nie die een hê nie.  Dit is miskien dalk in jou familie.  Dit is in jou omgewing of waar ook al.  Jou lewe van oorgawe aan die HERE, jou lewe, dat dit nie meer “ek” is wat lewe nie, maar Christus wat deur my lewe.  Dat dit nie meer “my wil” is nie maar God se wil wat deur my werk, word vir ander ‘n verleentheid. 

As hulle dit dan verwerp, dan verwerp hulle jou en wil jou nie meer in hulle lewens hê nie.  Dit is die weg van die kruis.  Maar dit is die heerlike en wonderlike weg.  Prys die naam van die HERE!

Niemand, niemand, kan hier neutraal staan nie, niemand kan hier neutraal bly nie.  Maar nie net in die beginsel nie, nie net die plek nie, maar ook in die krag, sal hierdie vorige twee ook weer uitkom. 

 

3.3 Die Krag van Die Kruis 

Die wat die kruis beginsel omhels, ontvang ‘n krag van God wat onweerstaanbaar is in sy en haar lewe.  Luister wat sê die Apostel:

1 Korinthiërs 1:18;

Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;

Wat is hierdie krag?

U moet baie mooi hierna luister want: - - - -

Dit is hierdie krag van God wat gewerk het in die eerste klompie dissipels.

Dit is hierdie krag van God wat die wêreld oorwin het. 

Dit is hierdie krag alleen wat u en ek in hierdie tyd nodig het

Dit is hierdie krag, sy beginsel wat vir ons so vreemd is.  

- - - - hierdie krag is onlosmaakbaar van die beginsel van die kruis en van die plek van die kruis. 

Die Here Jesus het vir sy dissipels gesê in:

Handelinge 1:8; (Die meeste van ons in dié gemeente ken dit baie goed).

maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

“Julle sal krag ontvang” ná die Heilige Gees oor julle gekom het en “julle sal my getuie wees”.

Daardie woord getuie, wat saam gaan met die krag, wat ons sal ontvang.  Wie weet waaruit daardie woord van “getuie” vertaal is in die Grieks?  Dit is vertaal uit die woord “martus”, wat martelare beteken.  In die eerste kerk, is dit ‘n feit, in die geskiedenis van die kerk is dit ‘n feit, dat die ware getuie van die kruis, die ware getuie van die boodskap van die Here Jesus, was nou verbonde aan die martelaarskap. 

Daardie eerste klompie dissipels, het hulle getuienis uitgedra in die volle wete en hulle het dit nie weggesteek nie dat hulle daarvoor die martelaarsdood kon sterwe.  Daarom het Jesus vir hulle gesê: “Julle sal krag ontvang na die Heilige Gees oor julle gekom het en julle sal my getuies wees”.  Met ander woorde, julle sal krag ontvang om My getuies te wees, tot die dood toe.  Ja tot die dood toe!

 

Ons sien veral in Pinkster, maar dit is ook in ander rigtings in die Christelike geloof, is daar ‘n groot begeerte in elkeen wat ernstig is, om groot dinge vir God te doen.  Groot wonderwerke, groot skares te trek, groot getuienis af te lewer. 

Maar in die plan van God en in die betekenis van hierdie woord is getuienis en martelaarskap onafskeidbaar aanmekaar verbonde en wat meer is, hierdie eerste klompie dissipels het krag van God ontvang om vir Hom, waar dit nodig was, vir Hom te sterwe. 

Waar het hulle dit ontvang? By die kruis!

Toe hulle die kruis aanvaar het as beginsel.

Toe hulle die kruis aanvaar het as ‘n lewenswyse.

Ons praat vandag van die kruis so ligtelik, ons sing so maklik:

At the Cross, at the Cross,

Where I first saw the light.

Hoeveel van ons het werklik die lig by die kruis gesien? 

Die kruis is ‘n beginsel, dat dit nie “ek” is nie, maar dat dit Hy is wat in my lewe.  Die kruis is ‘n beginsel dat Adam sy beginsel in God verloor het.  Weet u waar het Adam se sonde gekom?  Toe hy hom self laat ompraat het om te sê: Adam jy is so ‘n wonderlike wese, jy hoef nie so intiem van God afhanklik te wees nie.  Jy, Adam, kan jou eie ding doen!  Adam het daarvoor geval. 

 

Jesus by die kruis, deur sy hele lewe wat daarheen opgelei het, het vir ons kom wys, my lewe in God is ‘n lewe van intieme verbondenheid, ook ‘n lewe van intieme afhanklikheid van God.  Daarom het Hy gesê, sonder My kan julle niks doen nie en dit is die waarheid. 

Dit is ‘n Gods beginsel. 

Dit is ‘n beginsel wat ek by die kruis moet kry.

Dit is ‘n beginsel wat my moet lei na die kruis. 

 

Daar moet die kruis dan vir my ‘n plek word, waar hierdie opstandige ou hart van my, hierdie ou eie wil en sin in botsing kom met die wil van God en die liefde van God, en myself daaraan onderwerp in so ‘n mate dat ek Hom so lief het en so met Hom ingeskakel is dat ek bereid is om vir Hom te sterwe.  Dan word die kruis my krag en dit is die krag van die Christelike geloof. 

Ek hoop u kan begin sien:

Hierdie weg is nie ‘n goedkoop weg nie. 

Hierdie weg is nie ‘n breë weg nie.

Hierdie weg is ‘n spesiale weg. 

Hierdie weg is die enigste weg, terug na harmonie met God. 

Prys die Naam van die HERE!

 

In Openbaring 12:11;

(waar dit praat van hierdie Christene, sê dit, hulle het hom, en as u dit nou lees in sy verband, sê dit, hulle het hom, die duiwel, oorwin.)

En hulle het hom oorwin (die duiwel) deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis,(luister nou) en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.  

Sien u die oorwinning.  Oorwinning deur die woord van hul getuienis, deur die bloed van die Lam en die woord van hul getuienis. 

Die woord van hul getuienis - julle sal krag ontvang en julle sal my getuies wees.  O, ons wil so graag die krag hê. 


U weet, na Pinkster:

Dan kyk ons al weer uit na die bidure. 

Ons kyk na die herdenking van die dag van Pinkster. 

Ons kom bymekaar.

Ons wil opnuut gevul word met die Heilige Gees. 

Ons wil die gawes van die Heilige Gees hê. 

Ons wil in tale praat.

Ons wil uitlê.

Ons wil profeteer.  

Ons wil die hande op die siekes lê, hulle moet gesond word. 

Ons wil kragte doen. 

Ons wil geloof hê. 

Ons wil ‘n woord van kennis hê. 

Ons wil ‘n woord van wysheid hê. 

Ons wil onderskeiding van geeste hê. (so nodig in hierdie tyd)

Maar hierdie krag, die Heilige Gees:

Kom alleen deur die getuienis. 

Kom alleen deur die “martus”. 

Kom alleen deur die beginsel dat ek my lewe nie sal lief hê nie, tot die dood toe.  Dat ek my “ou ek” en “alles” aan God oorgegee het. 

Ons sing met soveel aandoening so dikwels;

My “al” is op die altaar,  En wag nou op die vuur!

Is dit waar?

As die kruis vir my word ‘n waaragtige beginsel,

en hy word vir my ‘n waaragtige plek,

dan word hy ook vir my ‘n waaragtige krag. 

Dan sal hierdie dinge in hul volheid in my lewe werk en ek wil vir u sê, dit is die enigste weg om God se volk terug te roep tot God self in hierdie tyd. 

Maar laat ek vir u een illustrasie gee by afsluiting wat pragtig is. Die lewe van Stéfanus sien ons dit so pragtig in:

Handeling 6:8;

EN Stéfanus, vol van geloof en krag, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen.

Geliefdes, Stéfanus het vol geloof en krag groot wonders en tekens gedoen.  Hy is voor die Joodse Raad gedaag.  Hy het sy getuienis voor hulle afgelê in die volle wete wat met hom kan gebeur.  Dit is ook presies wat met hom gebeur het.  Hulle het hom dood gegooi met klippe. 

Maar Stéfanus se beginsel, (hier kom al drie baie duidelik uit): - - - - -

Die beginsel van die kruis,

Die plek van die kruis,

Die krag van die kruis.

- - - - - om vir die Here Jesus te getuig, met die volle wete van wat kan gebeur, het hom nie sóveel laat afsien van sy getuienis nie. 

Dit was die krag van daardie eerste dissipels, daardie ontmoeting was die plek van botsing. 

Die kruis is ‘n plek van botsings.

Die kruis is ‘n plek van konflik. 

Die kruis is ‘n plek van stryd.

Stéfanus se getuienis en stand het in botsing gekom met die wil van daardie Joodse Raad.  Hulle het hom verwerp, maar die verwerping was nie genoeg nie, die aanklag in hulle siele was te groot, die aanslag was te groot.  Hulle moes met hom wegdoen.  Hy kon nie langer lewe nie want sy klag sal so bly. 

Maar in sy sterwe, nie net sy gloed op sy gesig nie maar die krag van sy woorde, wat uit hom uit gestraal het, gryp Saulus van Tarsus, en maak van hom die grootste apostel van die Here Jesus. 

Dit was nie net die krag van oortuiging nie, maar dit was die krag van God, dit was die krag van die kruis wat deur ‘n Stéfanus gestraal het en geslaan het in die hart van ‘n Saulus van Tarsus en hom gemaak het om eers te skop teen die prikkels totdat hy dit nie langer kon uitstaan nie en die Here Jesus hom neervel op die Damaskuspad en seker van hom die grootste eksponent van die kruis gemaak het wat die wêreld nog ooit gesien het. 

Dit is daarom dat hy so magtig kon praat oor die kruis van Gólgota.  Die kruis as ‘n beginsel, ‘n plek van konflik en ‘n plek van krag. 

So sien ons dan die kruis, as ‘n lewendige beginsel, ‘n plek van blootstelling, as ‘n krag wat die hardste hart breek en dit heel maak vir God.  Ons het ‘n heelmaking vir God nodig, maar voordat ons heel gemaak kan word moet ons eers gebreek word.  Moet “my wil” eers gebreek word.  Ek moet kom by ‘n plek van konflik. 

Daarom sal ons sluit om weer vir u net ons teks te lees en dan my eie, vrye vertaling daarvan.  Luister!

1 Korinthiërs 1:18;

Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;

Laat ek net vir u hierdie vertaling lees.

“Hierdie goddelike beginsel van die kruis, uitgedruk bloot net in woorde is dwaasheid vir die mens van hierdie wêreld met ‘n selfsugtige lewensuitkyk, maar waar hierdie twee lewenswyses in botsing kom, bring dit ‘n ontbloting voor, dit is ‘n plek waar God sy Goddelike krag in ontploffings energie vrygestel het om die mens volkome te herstel en weer reguit te maak”. 

 

Amen.

Daily Quotes

Joh 3:16 For God so loved the world, that he gave his only begotten Son, that whosoever believeth in him should not perish, but have everlasting life.

MiniCalendar

April 2016
MTWTFSS
123
45678910
11121314151617
18192021222324
252627282930

Vinaora Visitors Counter

135277
This_MonthThis_Month2118
All daysAll days135277